Loeloeraai/Belemmerings

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Afspraak vir ’n tremreis Loeloeraai
Belemmerings
deur C. J. Langenhoven
’n Hoë bod



Belemmerings[edit]

Loeloeraai het nie die tussentyd ledig deurgebring nie. Engela het maar haar aandag verdeel tussen hom en die negosiewinkel, en die eintlike twee aande in die week die jongkêrel: dit was nog dieselfde Willem van Meiringspoort, die krans-afdaler. Wanneer Loeloeraai dan nie met sy taallesse besig was nie – en hy het tegelykertyd ook Engels aangeleer en albei tale leer lees – het hy bome en blomme en diere bestudeer en sketse gemaak. Veral toe ons die vark en die skaap geslag het, het hy van die begin tot die end bygestaan by die slag en die uitmekaarsny en noukeurig die anatomie ondersoek. In Kiewiet het hy ook baie belang gestel; deur sy vriendelike innemendheid het hy gou die oujong se agterdog oorwin.

Ek moes hom waarsku om nie Kiewiet se Afrikaans vir klassiek aan te neem nie.

,,Ons is altyd bang vir kindermeide,” het ek eendag aan hom gesê, ,,Hulle leer die kleintjies allerhande verkeerde tale. Tot Engels ook. En selfs by ons – ons het ’n klomp huisuitdrukkings net vir ons gesin alleen wat nie by ander mense gangbaar is nie. By voorbeeld, hier in ons eie kringetjie praat ons van ’n tieters, ’n wolvoet, ’n totjie, ’n spoei, ’n tweetjie, ’n koelkan, ’n poenerkiep, ’n spuiker, ’n boesnot, ’n koosappel, ’n perkie, ’n skulpjakob, ’n gjog, ’n looi, ’n vluis, ’n potjietot, ’n gotnoshót, ’n poenlam, ’n mampelpoenpas, ’n disakker, en so met ’n magdom van ander woorde. Daardie uitdrukkings is ongeyk: jy moet hulle vermy. Verder het ons vir elkeen van ons bure ’n private bynaam; as die name ons altemit met ’n ongeluk ontglip waar jy by is, moenie hulle herhaal nie. Dit sal aanleiding gee tot onnodige onaangenaamheid. Jy weet hoe kleinserig party mense is, of liewer, jy weet dit nie maar ek weet dit.”

En so, voor ons dit wis, was die veertien dae amper om. Maar toe kom daar moeilikheid. Natuurlik. ’n Mens kan nooit ’n onskuldige plan hê nie of jy word in die wiele gery. Wanneer ’n mens wil goeddoen kry jy altyd teëspoed. By kwaaddoen nie. Buiten agterna.

Die gerugte van die geheimsinnige vreemdeling het gou genoeg versprei en dag vir dag was daar ’n digte skare voor my hek wat staan en inkyk. Loeloeraai moet ook maar vreemd gelyk het vir hulle. Ek wou vir hom ’n pak klere gee of ’n nuwe laat maak, maar daarvan wou hy volstrek nie hoor nie. Hy’t glo daaroor gevoel soos ons sou voel as ons in ’n bobbejaanwêreld kom en hulle wil vir ons daar ’n bobbejaanvel laat aantrek. Familie en hier en daar ’n skaarse vriend het partykeer ingekom en nader kennis gemaak. Soos eendag my ou swaer Gideon, in die wandel bekend as ou Watwo.

,,Kerneels,” sê die ou, ,,dis my plig om te kom praat. Ek is met jou suster getroud.”

,,Swaer,” sê ek, ,,ek het haar nie in die pad gestaan toe sy wou trou nie. En as sy dit eendag in haar kop kry om te skei sal ek haar ook nie keer nie.”

,,Skei ? Watwo. Kerneels, jy loop ’n verkeerde pad.”

,,Ja, swaer, jy’t gelyk. Ek loop niks as verkeerde paaie. Al die regtes word vir my toegekap. Sien jy daar die konstabel daar aankom ? Ek sweer hy kom hierheen. Sonde soek.”

,,Hy sal dit nie hier hoef te soek nie,” sê ou swaer Gideon. ,,Watwo. Wat is dit vir ’n man wat ek hoor wat jy hier aanhou?”
,,Ou swaer, kyk daar’s hy.”

Toe kom Loeloeraai om die waenhuis met Herrie. Hulle twee was baie goeie maters geword. Elke slag was dit maar ’n armvol lusern of een van Vroutjie se vroepampoene.

,,Ja, kyk,” sê ou Gideon. ,,Daar’s hy! Watwo. Daar’s albei van hulle. Waffer mens hou ’n olifant aan ? En ’n man met lang hare en ’n rok. Nes ’n vroumens. Ek reken dis ’n publieke skandaal, swaer Kerneels. Waar kom die kêrel vandaan ?”

,,Van die aandster af.”

,,Aandster ? Watwo.”

En toe kom die hoofkonstabel Makdóf by.

,,Die magistraat het my hierheen gestuur,” sê hy.

,,Ek weet,” sê ek. ,,Ek ken sy boodskappers. Ek betaal hulle gasie.”

,,Daar het klagtes ingekom,” gaan Makdóf voort. ,,Die publieke straat word hier dag vir dag opgedam en die verkeer belemmer van die skares wat jy hier voor jou huis laat versamel.”

,,Ek hulle laat versamel ? Ek hou reeds ’n olifant aan om hulle van my huis af weg te hou. Dit let my nie veel nie of ek sit hom aan jóú. Sê vir jou baas hy moet na sy baas toe skryf, Pretoria toe, en kry vir my ’n klomp van die bomme wat ’n mens by werkstakings gebruik. Dan sal ek vir hom die skare hier verstrooi so gou as hy kan sê mes.”

,,Ek het my plig om te doen,” sê Makdóf. ,,Ek is verder gelas om rekenskap te vra omtrent die uitlander wat jy hier herberg.”
,,Waarom moet ek dan rekenskap gee ? Is daar klagtes gekom dat die man melaats is ? Of rasend ? Of ’n ontsnapte prisonier ?”
,,Nee. Maar hy het onwettig oor die grense gekom.”

,,Hy kom nie oor die grense nie,” sê ek.

,,Kom hy altemit onderdeur ?”

,,Nee. Hy kom nie onderdeur ook nie. Maar ek sweer hy sou gekon het as hy gewou het. Nee. Hy was nog nergens in die Unie nie as hier op my eiendom.”

,,Is hy hier gebore of geskape ?”

,,Nee, ook nie. Deel aan die magistraat, met my komplimente, die ou Romeinse regsreël mee: ,Cujus est solum, ejus est ad coelum.’ Dit wil sê, as sy Latyn hom in die steek laat: ,Die eienaar van die grond is eienaar van die lug wat daar regoor is tot in die eindeloosheid van die heelal.’ Die kêrel wat jy na verneem, het loodreg uit die hemel uit hier op my erf neergedaal.”

,,Ek laat nie met my die gek speel nie.”

,,Nee, man, dis die reine waarheid. Wanneer ek sê die hemel bedoel ek natuurlik die sterrehemel. Wat sal ek ook met jou van die ander gesels ? Hy kom van die aandster af.”

,,Aandster ? Watwo,” brom ou Gideon tussenin.

,,Ek sal gaan rapport maak,” sê Makdóf en hy loop.

Die tweede dag daarop was die Donderdag toe ons moes vertrek. Instede daarvan was ons voor die hof. Ou Stoffel Gieljam het die oggend vroeg opgedaag en ek en hy is natuurlik saam met Loeloeraai hof toe.

Die uitspraak was ’n uitgemaakte saak. Ou Stoffel wou boete betaal of borg staan, maar die magistraat wou nie daarvan hoor nie.

,,Die prisonier sal sy drie maande harde arbeid aflê en dan sal hy teruggestuur word. Konstabel, verwyder hom.”
En toe neem Loeloeraai sy eerste deel aan die verrigtinge.

,,Wag, konstabel,” sê hy, ,,ek het iets om aan die magistraat te sê. Amptenaar,” gaan hy voort, tot die magistraat, ,,ek neem jou nie kwalik nie. Jy doen wat jy beskou wat jou plig is. Ek het ook ’n plig waaraan ek moet getrou wees – ’n plig teenoor myself en teenoor diegene wat ek hier alleen verteenwoordig. In die wêreld waar ek vandaan kom, is ons wetgehoorsaam, nie onder die dwang van magistrale en konstabels en tronke en boeie nie, maar uit wederkerige liefde. Ons het geleer om te besef dat dit die enigste manier is om ons geluk te verseker. En noudat ek as vreemdeling hierheen gekom het, en sonder om kwaad te soek, wil ek my nie verset teen die gesag wat hier heers nie, al is sy heerskappy oor sy eie onderdane ook so primitief en onvolmaak soos ek opmerk. Ek het nie die minste begeerte om stoornis te verwek, om teëstand te doen, om geweld te pleeg nie.

,,Maar jy, amptenaar, vergeet die bepalings van jou eie gesag. Ek staan nie onder die wet wat jy hier moet handhaaf nie. Hy noem my nie, hy maak geen voorsiening vir my nie. En wat diegene betref wat met sy uitvoering belas is – jy, amptenaar, en jou polisie, en die gewapende dienare van jou hele Staat, het oor my geen mag nie. So min as wat hulle jou vonnis kan uitvoer om my terug te stuur na waar ek vandaan kom, so min kan hulle jou vonnis uitvoer om my gevange te hou.

,,Tog, as ek nie onder julle wet staan nie – ek wil nie bo julle wet ook staan nie. Laat my gaan. Ek sal dit betreur om so spoedig te vertrek – ek vind die lewe op julle planeet wonderlik interessant en ek sou dit graag verder ondersoek het. Ook sou ek dit betreur om so ’n plotselinge einde te maak aan die vriendskap en liefde wat ek ondervind het in die gasvrye gesin wat my verwelkom het. As ek dit mag sê – selfs die kleurling Kiewiet het my laat besef dat daar skoonheid van gees en liefde van hart genoeg is om hierdie aarde net so gelukkig te maak as die heerlike plek van my eie inwoning – as julle maar julle eie heil wou insien. Ek voel baie, baie hartseer. Maar laat my gaan, amptenaar; jy het my woord dat ek nie vier-en-twintig uur langer die aarde met my teenwoordigheid sal opskeep nie.”

,,Dit lyk my jy is kranksinnig ook,” sê die magistraat. ,,Konstabel, ek het reeds gelas om die prisonier te verwyder.”

Die konstabel tree nader en lig sy hand op. Net soos hy aan Loeloeraai se arm raak, word hy slap en hy sak inmekaar.

,,Laat hom ’n paar uur slaap,” sê Loeloeraai. ,,Hy sal niks oorkom nie. Kom, Kerneels en Stoffel, kom ons gaan huis toe. Ons het baie om te gesels in die tydjie wat vir ons oorbly. Maar voor ek gaan – amptenaar, asseblief moenie gewapende magte stuur om my in hegtenis te neem nie. Ek wil niemand die minste leed aandoen nie.” Hy kyk by die oop venster van die hofsaal uit. ,,Sien jy daardie groot bos op die rand van die oorkantse kop ?” Hy haal ’n dingetjie nes ’n vérkyker uit sy bors en hy peil daardeur. Toe ons weer sien staan die bos aan die vlam.

,,Dis maar ’n klein aanduidinkie,” sê Loeloeraai, ,,van die wetenskap van die bewoners van julle aandster en môrester.”

Met ons uitgaan sien ek ou swaer Gideon het ook na die saak kom luister.

,,Watwo,” sê die ou.