Die liefde is lankmoedig/Hoofstuk V

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Hoofstuk IV Die liefde is lankmoedig
Hoofstuk V
deur T. C. Pienaar
Hoofstuk VI


V.

Die lewe bestaan uit skakels soos 'n ketting. Die een skakel is 'n gevolg van die vorige en 'n oorsaak van die volgende. As 'n mens meer kan raaksien as die feite self dan is dit opmerklik. So is Juffrou se siekte 'n paar maande ná die ou vrou se toeval ook 'n gevolg van sekere gebeurtenisse en die oorsaak van ander.

Omdat sy so gevoelig is, het die skeuring wat gekom het in die rustige saamwees van hul kringetjie haar kragte stadig laat agteruit gaan, en haar natuurlike weerstandsvermoë teen kwale, wat maar altyd knaend was, verbreek. Sy het ernstig siek geword en moes in die bed bly.

Hester is 'n sterk en moedige vrou en sou sake miskien vir 'n tyd lank alleen kon behartig, selfs met die ekstra versorging van die sieke, want daar was toe gelukkig nie veel bedrywighede op die plaas nie. Maar toe ontstaan die groot probleem met die ou vrou. Juffrou kon na 'n paar dae nie meer opstaan om haar kos te gee nie. Die ou vrou laat Hester wel toe om ander dinge vir haar te doen maar wil nie 'n mondvol kos van haar eet nie.

As sy regtig honger word, sal sy wel haar bogtery laat staan, meen die kinders, en sy bly die eerste dag sonder kos.

Die tweede dag probeer Ben self met veel geduld en mooipraat om haar te voer, maar tevergeefs. Sy neem net water uit 'n glas wanneer hy self die grootste hoeveelheid daarvan gedrink het.

Die uitdrukking van angs en lyding in haar half gebroke oë laat Hester die nag omtrent nie slaap nie. Ook Ben is naderhand wakker; en in die stil ure van die nag lê hulle kommervol en praat. Langer as die derde dag kon dit nie so aanhou nie. Dis duidelik dat haar kragte vinnig afneem. Binnekort is dit klaar met haar. Ook by Juffrou is daar geen beterskap nie. Sy is so swak dat Hester haar kop moet lig wanneer sy haar iets te drinke gee. Hulle weet dat die ou vrou 'n wil het soos staal; dit kan gebreek word, maar dit buig nie. Haar toestand mag reeds kranksinnigheid veroorsaak het; deurdat sy nie kan praat nie, kan 'n mens nie oordeel nie. As 'n kranksinnige besluit het om nie te eet nie, kan niks hom daartoe beweeg nie. Van sulke gevalle is daar baie te vertel.

Hulle lë van middernag af wakker tot dagbreek; dan maak hulle koffie en vind 'n uitvlug in die daaglikse werk.

Aan Juffrou word niks vertel van wat gebeur nie. Hulle wil haar liewer nie ontstel nie.

Toe die ou vrou die middag nog niks genuttig het nie, gaan Ben by Meneer raad soek. Dié weet nie van hul moeilikheid nie, want in die afgelope maande is dit net asof hy hulle huis vermy.

"As ou tant Bet 'n hongerdood verkies bo 'n lang lyding is dit haar saak", meen hy nadat Ben hom van haar streke vertel het.

Toe moes Ben met die groot rede van hul besorgdheid voor die dag kom, waarom dit noodsaaklik is dat die ou vrou moet herstel.

"Dit verander natuurlik die saak", stem Meneer saam. Nadat hy alles gehoor het, reken hy ook dat oorlede Diederik sy erfreg verruil het vir die lensiesoep van die groot wêreld. Hy raai Ben aan om 'n dokter te laat kom wat die pasiënt opbouende inspuitings kan gee. Daar sal ook 'n verpleegster aangehou moet word om die inspuitings daagliks te herhaal, want 'n leek mag dit nie doen nie.

Dat 'n mens se gestel gevoed kan word deur inspuitings in die bloed is vir Ben, wat nooit enige wetenskap geleer het nie, onaanneemlik. Hy voel sommer dat die onkoste en groot omslagtigheid verniet sal wees. Hy wil Meneer egter nie affronteer nie, en hy bly stil met 'n sug. Moedeloos sak sy hoof vooroor in sy groot, knoesterige hande. Dis die einde, dink hy. 'n Ellendige einde vir albei van sy ouers! Gods oordeel. 'n Vloek op die Bosman-familie wat ook sy kinders en kindskinders sal tref, al weet geen sterfling daarvan nie. Die misdade van die vaders sal besoek word aan die kinders. Hy glo dit nou. Dis daarom dat hy en Hester so swaar beproef word. Sy hele gemoed is in opstand, en wil in verset uitskree teen die onregverdigheid van God.

Meneer verstaan.

"Kom rook. Ben", sê hy gevoelvol, en hy bied hom sy tabaksak aan om te stop.

Wanneer jou sielenood waarlik hoog is. word simpatie meer beklemmend as troostend. Asof Ben daarvan wil wegvlug, spring hy op en gaan in die deur staan. Hy kyk uit oor die grasvlakte wat so lieflik groen skyn af met die laagte, en groener in die vlei. Groenvlei! Hy het die plek lief - die vlei en laagte en bulte ken hy goed. Elke hoekie van die plaas ken hy. Toe hy agt jaar oud was, het hy beeste opgepas waar die skoolhuis nou staan, en hy het daar één geword met die groen vleie en diepblou hemel. Al die drome en ideale van sy jeuglewe het daar saamgevloei met die bulte en laagtes tot teen die gesigseinder. Oorkant teen die bult lê sy rooi gebraakte lande, honderde morge wat hy jaarliks bewerk. Ja, al die werkkrag van sy manlike jare het hy heelhartig, met toewyding, aan die plaas gegee. Niks het hy vir homself of sy vrou gegun nie. Dikwels was hy saans so moeg dat hy nie eens kon bid nie! Nee, waaragtig nie! Geen morg van hierdie aarde kom hom toe wat dit verloën het vir die swynedraf van vreemde aarde nie. God is regverdig. Hy sal dit nie toelaat nie!

Beslis draai hy hom om met die woorde: "Ons moet 'n plan maak, Meneer. Só kan dit nie eindig nie. Het jy waaragtig geen raad nie?"

"Ek het nou juis gesit en dink", antwoord Meneer bedaard, en haal die pyp uit sy mond uit. "Ek dink ek ry saam met jou terug. Sover ek weet, het ék ou tant Bet nog geen strooi in die weg gelê nie,"

Gekrom ry die twee met die fietse oor die bult. Nou het Ben weer moed. Net die paar woorde en belangstelling van Meneer help al.

Esme was net die een maal by die ou vrou in die kamer, en daarna nie weer nie. Ben en Meneer kry haar nou op die agterstoep, waar sy ewe lustig speel met Klein-Ben se mak duiwe. Dis vir Hester onbegryplik dat 'n grootmens so ongevoelig kan wees teenoor die dinge wat om hom gebeur. Sy raai nie eens iets van die moeilikheid met die ou vrou nie. Aan wat Hester en Ben opsetlik aan tafel daaroor sê, steur sy haar nie eens nie. Wat sy gevra word om vir Juffrou te doen, doen sy soos of kind of bediende, en verder raak dit haar nie,

Meneer groet haar en vra haar om saam met hom te gaan gesels met ou tant Bet.

Onverskillig vra sy "Hoekom?" en laat die duif wegvlie wat sy in haar hand gehou het. Haar oë volg die sierlike vlug van die voël, en sy kyk Meneer aan asof sy wil sê: "Is dit nie mooi nie?" Maar die erns op sy gesig herinner haar dat hy van die ou vrou in die kamer gepraat het.

"Ben het my vertel dat sy so agteruit gaan en opbeuring nodig het", verduidelik hy.

Sy kyk hom ongelowig aan met dromerige oë, en stap na die kamer met 'n houding wat sê: "Ek doen dit net vir jou".

Hulle gaan staan by die onderent van die bed en sien net die gesig bokant die wit deken uitsteek. 'n Klein, maer, verrimpelde gesiggie met hol wange en weggesinkte oë. Esme se hand gly in Meneer s'n, en hy kan voel dat sy bang word.

"Goeiemiddag, tant Bet", sê hy, en die oë gaan oop. Hy skrik vir die gebrokenheid daarvan.

"Tant Bet wonder seker waarom ek ewe skielik hier kom inloer", gaan hy verder, en sy knip haar oë. Dis aan moedigend, 'n teken dat sy nog haar volle verstand het.

"Ek kom vir tante my verloofde wys en toestemming vra om te trou", gaan hy voort op gekskeer-toon. "Ons is albei weeskinders; nou kom vra ons maar by tante ouers."

Daar kom die skyn van 'n glimlag om haar mond, en 'n peinsende uitdrukking in haar oë. Dis asof sy nadink wanneer laas iemand haar so vriendlik aangespreek het.

"Hoe lyk dit, kry ons die ja-woord?" vra hy na 'n rukkie, en sy knip met haar oë. So dankbaar is hy oor die gunstige reaksie dat sy hand Esme s'n druk dat sy seerkry.

Sy kyk op. Die verwondering, pyn en vermaak in haar oë oorrompel hom meteens. Die drang wat hy probeer tem het na die enkele voorval in sy huis ruk weer los. Op daardie oomblik voel hy asof hy geen rus sal vind totdat.... ja, totdat die beker leeg gedrink is - of dit geluk of verdriet gaan wees, dit maak nie meer saak nie. Dit moét. Dit sál gebeur.

Meneer het Esme versoek om die ou mens te kom opbeur, en hoe gouer sy die verpligting uitvoer, hoe beter. Die skemerkamer en die bedompige reuk beklem haar.

Wanneer 'n mens met 'n vreemde gesels begin jy by die natuurlikste aanknopingspunt, wat in haar geval hul verwantskap is, en gevolglik sê sy: "Ek wonder of u weet dat ek u kleindogter is?" Meneer hou sy asem op vir die reaksie. Hy moes haar gewaarsku het om liewer nie daarvan te praat nie. Aan die ander kant mag die prikkeling goed wees. Het dit die teenoorgestelde uitwerking, is dit tot daarnatoe: eenkant toe moet dit; hoe eerder hoe beter. Finaliteit, al is dit ook ongunstig, is verkieslik bo spanning en twyfel.

Daar kom ongeloof in haar oë.

"Ek is Diederik se dogter, Ouma. Die seun wat dood is, deur wie u so siek is nou. Juffrou het my vertel daarvan."

"Nou is die vet in die vuur", dink Meneer. Maar miskien kan hy die ou vrou oor haar angs help., en hy span sy verbeelding in. "Ja, het Ben u dan nie vertel dat hy net betyds was om sy oorlede broer se laaste versoek te hoor nie? Hy kon nie meer praat nie, maar toe hy Ben sien, en hoor dis die broer wat hy laat roep het, het hy gesê: 'My dogter, neem haar aan as jou eie. Hou haar weg van die dorpe.' Toe was dit klaar. Geen woord meer nie. Die dokters was seker dat hy die laaste paar uur geleef het net om daardie paar woorde te sê."

Hy hou die ou vrou fyn dop, en die groot verligting is duidelik op haar gesig. Nou dink sy niemand weet van haar sondes nie. Dis maar 'n geluk dat sy nie so glo aan 'n alwetende God, soos Juffrou nie. Dan was daar bepaald geen hoop vir haar nie, dink Meneer. Toe sê hy vir Esme dat sy aan haar ouma moet vertel waarom sy nie eerder kom kennis maak het nie.

"Ek was bang", antwoord sy reguit.

"Bang vir 'n siek mens?" spot Meneer haar. "Tant Bet sien sy is nog 'n pure kind. Ek sal haar moet grootmaak as ons eers getroud is."

'n Duidelike glimlag kom op die ou vrou se gesig. So vriendelik het Meneer haar selde gesien. Maar daar is seker ook 'n groot gewig van haar gemoed af. Nou reken sy dat daar geen sterfling is wat weet nie.

"Is jy nog bang?" vra hy vir Esme.

"Niks meer nie. Natuurlik nie", bevestig sy. "Maar ouma moet nie glo dat ek regtig met hom sal trou nie. Hy jok sommer. My pa wou altyd hê dat ek met 'n ryk man moes trou, sodat hy nie sou nodig hê om bont te spring vir geld nie. Die ou pappa van my was nie danig ryk nie, ouma, maar ons was darem altyd volop van geld, en hy het my nooit gesnoep nie." Sy lag en vertel verder op intieme toon asof dit 'n groot grap is: "Weet ouma, pappa het my eendag vertel hoe suinig sy ma was, en dat dit daarom is dat hy graag mors met geld. Hy was tog snaaks. Partymaal, wanneer ons kort geraak het, het hy weer gewens dat hy so met sy geld kon werk soos ouma. Hy het gesê dat hy dan maklik

'n miljoenêr kan geword het, want hy het 'n slag gehad om geld te verdien, soos min mense; en hy het nooit gewerk nie! Dis een ding wat ek nie verstaan van oom Ben nie; hy werk hom dood, en.... Wel, dit lyk nie vir my of hy ooit geld het nie."

Meneer vat haar handjie en streel dit op die ledekant.

"Daar is twee soorte ryk mense, my dametjie", sê hy vir haar. "Die wat ryk is, en die wat ryk lyk. Ek is van die wat ryk is, maar arm lyk. As jy 'n ryk man wil hê, kan jy gerus maar met my trou. 'n Vroutjie soos jy is al wat ek nog kortkom om ook 'n miljoenêr te wees."

Sy lag heerlik, en meen dat hy sommer korswel ter wille van die ou vrou.

"Wat sê ouma? Dink ouma ook hy is ryk?" vra sy, en die ou vrou se mond gaan sowaar oop asof sy "Ja" sê:,

"Ons is oor die moeilikheid", besluit Meneer in sy gedagte en sê: "Kyk, tant Bet weet seker dat Juffrou baie siek is, so siek dat sy haar nie kan verroer nie, en ek dink dit sal gaaf wees as Esme nou haar ouma oppas". Die keer hou hy Esme se gesig twyfelagtig dop. "Sal jy, Esme?" vra hy.

"Ek sal seker moet", antwoord sy met 'n knop in die keel.

Die vrolikheid is dadelik uit haar gesig. In haar hart is sy woedend. So 'n ou vabond. Hy lok haar eers in die kamer in, en vang haar dan op die manier! As sy weier, raak haar beurs miskien weer leeg.

"Nou toe, gaan haal vir ouma karringmelk", stuur hy haar. "Tant Bet hou mos van karringmelk?" vra hy, Die wat weet sou die ligte trilling in sy stem kon hoor.

Weer maak sy haar mond oop asof sy "Ja" sê. Plotseling kom daar 'n aaklikge herinnering in Meneer op. Een aand voor die stoof het hy gesê.... Dit was dieselfde aand wat die ou vrou so geword het. Sou daar waarlik 'n God wees wat op alles ag slaan? - Nee. Dit was ná tant Bet al in die kamer was dat hy dit gesê het.

Esme kom in met 'n glas karringmelk. Sy drink daar eers

'n bietjie van soos Hester vir haar in die kombuis gefluister het, en toe hou sy dit vir haar ouma om te drink.

Stadig sluk tant Bet dit weg.

Dit was die end van die moeilikheid. Van toe af moes Esme die ou vrou kos gee. Die ander dinge doen Hester.

"Meneer het 'n wonderlike slag met hulle altwee gehad", vertel Hester die aand vir Ben in die kamer. Die nag slaap hulle dwarsdeur sonder om wakker te skrik en rond te rol.

Esme kon die bedompigheid van die kamer nie verdra nie. Om die ou klein venstertjie oop te maak, help nie veel nie. Toe Meneer weer een middag daar kom, stel sy hom 'n ultimatum. Hy moet sorg dat hulle die ou mens, soos sy haar agteraf genoem het, bedags op die stoep bring, anders gaan sy nie meer vir haar kos gee nie.

Daarna het hulle een van die kinders se kateltjies op die stoep gebring, en die ou vrou word soggens uitgedra, en saans ingebring, wanneer die weer gunstig is. Daar lê sy en kyk na die gedoentes van die duiwe, hoe hulle baklei, en vry en te kere gaan, Dis vir Esme 'n groot vermaak, en sy is seker dat hulle ook sal help om die ou mens se lot te versag. Soms kom staan Esme daar by haar en maak grappige aanmerkings, of vertel van haar pa en hul lewe.

Vanaf die stoep kan ou tant Bet ook die henne hoor kekkel. Later, toe Juffrou 'n bietjie kon opstaan en by haar gaan sit het, kon sy 'n duidelike verandering op die ou gesig sien wanneer die henne kekkel.