Die Romeinse Boer/Vergilius

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Varro Die Romeinse Boer
V. Vergilius
deur T.J. Haarhoff
Boek I: Oor die Land


V. Vergilius.

§1. Die Agtergrond[edit]

Niemand, hoe oorspronklik ook, is onbeïnvloed deur sy omgewing en geskiedenis nie; en Vergilius dra die spore van die eeuelange burgeroorloë waarin die grootste gedeelte van sy lewe val. Byna aanhoudend van die hervormingspoging van die Gracchi af, 133 v. Kr., tot op die oorwinning van Augustus, 31 v. Kr. het die staatskip om onstuimige waters geworstel. "Die verskrikking van daardie tyd," sê Cicero omtrent die oorlog met die Bondgenote, "is so in ons land ingebrand, dat dit lyk asof nie net mense nie, maar ook die stomme diere die gedagte aan hul terugkoms nie kan verdra nie."

Mag en rykdom, ongesog en al te skielik, het die eenvoudige boerestaat met versoekinge oorweldig. Die voorvaderlike deug het verrot. Die ou regverdigheid en ewewig van gees wat so kenmerkend van die boerestaatsman in die 4e eeu was, is nou sover op die agtergrond gedring, dat die Italiërs wat getrou in Rome se oorloë meegehelp het, wat met geld en bloed die grootheid van die staat vermeerder het, deur 'n oorlog van enige jare die burgerreg moes afpers. Die senaat, wat (62) mettertyd die regte van die volk om te regeer, vir homself toegeëien het, het nou, ná 'n tyd van kragtige en bekwame regering, verval in onmag en sedelike korrupsie. As senatore uitgaan om die provinsies te regeer, dan het hul net een oogmerk - om 'n fortuin te maak. Sienies is dit gesê dat hul drie fortuine, moes maak - een om die pos te kry, 'n ander om die geregshowe mee om te koop by hul terugkoms, en 'n derde vir hulself. Nog altyd ook was daar die "arme blankes," in die stad en die landkwessie. Daar was ook iets wat ooreenslaan met ons naturelle-kwessie. Die Romeinse landbou het berus op slawe-arbeid, en die nadele hiervan het duideliker in die laaste jare van die Republiek uitgekom as ooit te vore. In die stad het polietisie dikwels slawe en werklui gebruik om allerhande geweld te pleeg, eleksievergaderinge op te breek, stemme te verkrag en wat dies meer sy. Die Forum was dikwels rooi met bloed: daarvan getuig die redevoeringe van Cicero. Op die land is dergelike bendes ook dikwels in die lewe geroep om twiste oor grenslyne en waterregte te besleg. Slawe, sterk gemaak deur arbeid in die ope lug, was altyd gereed om 'n hopelose bestaan met 'n geveg of twee af te wissel. Terwyl die baas mag vrees om 'n kosbare slaaf te verloor, het die slaaf self, op ekonomiese gebied, niks te verloor gehad nie. En uit 'n opskudding was dit altyd moontlik dat die slaaf een of ander voordeel sou trek - buit of wraak of algehele vryheid.

Dit lyk dus asof, in hierdie tydperk van rewolusie, die landbou afhanklik was van slawe-arbeid, terwyl dit gedurig bedreig is deur gevare wat uit daardie sisteem self spruit.[1] Sou dit miskien van Suid-Afrika kon gesê word, dat sy landbou en industrieë berus op 'n basis van wat sommige ekonomiese slawerny noem, en dat uit daardie sisteem gedurige en al hoe ernstiger gevare spruit? (63)

Terwyl die regerende Senaat in weelde en verwarring en sedelike agteruitgang verkeer, stuur die Noodlot (en Julius Caesar) sake hoe langer hoe meer in die rigting van Een-Man-Oorheersing. Toe Vergilius in sy een-en-twintigste jaar was, trek Caesar die Rubico oor (49 v. Kr.) en die burgeroorlog, wat op die Keiserryk sou uitloop, neem 'n aanvang. In die kort tydjie van sy siviele regering, het Caesar baie van die ou mense uit die weg geruim. Hy het die mense uit die Provinsies 'n beter regering gegee (sodat dit b.v. later vir Poulus moontlik was om hom op die Keiser te beroep). Toe Octavianus (later die Keiser Augustus), ná die vermoording van Caesar, die opvolger van sy oom geword het, was byna al die vyande van die nuwe sisteem uit die weg geruim. De hele Romeinse wêreld het 'n sug van verligting geslaak, toe dit duidelik word dat Octavianus eindelik dan die oorlogverskeurde wêreld in die seën van vrede sou skink. Meer en meer het die Pax Romana 'n werklikheid geword; en die digters aan die hof van die Keiser het dit nie ongerymd geag om hom as 'n god op aarde te besing nie. Daar ver in die provinsies het mense tempels ter ere van hom gebou. Nuwe hoop het in besorgde harte begin groei: dit het werklik gelyk of die Goue Eeu weer terugkom.

§2.[edit]

Maar die rooskleurige skilderinge van die digters moet ons nie verblind vir die werklikheid van die omstandighede nie. Augustus het maar gedeeltelik daarin geslaag om die boere op die land terug te bring. Die plebs urbana was nog 'n las en 'n gevaar. Baie boere het hul plase verloor omdat hul in die ingewikkelde politieke kriesis die verkeerde kant gekies het; die digters Vergi- lius, Horatius, Tibullus en Propertius was onder die slagoffers. Baie weer het omgekom in die burgeroorloë. (64)

Die samelewing was te veel in die stad gekonsentreer; op die land was dit te indiwidualisties en te onderhewig aan die manipulasie van die kapitalis. Die lofsange oor die landelike lewe was dikwels oneg, of die uiting van mense wat moeg was van die geraas van die stad - "die rook, geraas, en rykdom van Rome," soos Horatius sê - en wat verligting gesoek het op die land, wat hul wel verfrissend maar ook vervelig gevind het: dit het Lucretius reeds kenmerkend geskilder.

Nogtans was daar vooruitgang. Die voortduring van vrede alleen (en dit het byna tweehonderd jaar geduur) het die ekonomiese omstandighede verbeter. Die plase is weer ontgin. En Vergilius, in elk geval, was eerlik genoeg in sy bewondering vir die natuur en die landelike lewe.

§3. Die Man[edit]

Self seun van 'n boer, het Vergilius op die land opgegroei. Sy vader het by sy pottebakkery bye aangehou en bosland opgekoop. Hy het sy seun op twaalfjarige leeftyd na die naburige stad Cremona toe geneem (want hul het in die provinsie Gallia Cisalpina, wat nog nie 'n deel van Italië self was nie, gewoon) en daarvandaan na Milaan, en kort daarop na Rome. Waarskyn- lik was die doel van hierdie verskuiwinge die opvoeding van die seun. In Rome het hy filosofie en retoriek gestudeer. In een van sy kleiner gedigte spreek hy sy minagting uit vir die opgeblase styl van die retore. Met de Genestet het hy gebid: "Verlos ons van den preektoon, Heer!" Altyd het hy gesoek na egtheid en eenvoud.

Enigsins teleurgesteld, is hy van Rome af weg. Hy het 'n drang gehad om tot by die wortel van dinge deur (65) te dring. Die filosofie van Epicurus[2] (hopeloos misverstaan deur die volk: die lot van elke groot profeet) het gelyk of dit 'n oplossing kon gee. Maar ten slotte het hy hom meer tuis gevoel by die Stoïsyne. Stoïsisme was die stelsel wat die beste aangesluit het by die Romeinse karakter en dit bevat punte van aanraking met die Kalvinisme.

Terug van die Uniwersiteit af, het Vergiluis na die noordelike plasie van sy vader toe gegaan. Daar het hy met die plaaswerk gehelp, daar het sy poësie begin ontwikkel. Ons kan sy omgewing vir ons voorstel. "Hierdie plasie van Vergilius," sê die Franse krietikus Sainte-Beuve, "(miskien was dit tog nie so klein nie) daar tussen die heuwels en die vlei, met sy koelte en fonteine, uitgestrekte poele en swane, bye in die wilgerheining - ons sien dit, ons het dit lief soos hy, ons roep saam met hom in dieselfde angs uit, toe hy die gevaar van dit te verloor sien: "Barbarus has segetes" - Sal 'n barbaar meester word van velde soos dié!

Hier het Vergilius sy Eclogae, uitgesogte gedigte, of Bucolica, herdersliedere, begin opstel, onder die (66) koelte, miskien, van 'n boom, of langs 'n murmelende stroompie, soos die herder in die eerste gedig onder die skaduwee van 'n wydgetakte beuk- patulae sub tegmine fagi. Maar uit die romantiese drome van daardie tyd is hy grof wakker geskud deur politieke gebeurtenisse.

Na die slag by Philippi, 42 v. Kr., het Octavianus en sy helpers die land rondom Cremona, en ook dié van Mantua, verbeurd verklaar. Vergilius met sy vader (wat nou blind was) moes suidwaarts vlug. Die tradiesie vertel hoe dat 'n soldaat die digter met sy swaard gedreig het, en hoe Vergilius oor die rivier Mincius moes swem om sy lewe te red. Dit lyk (volgens 'n gedig wat aan hom toegeskrywe word) asof hy toevlug geneem het in die huis van sy vorige professor Siro, in Napels. Later het hy na Rome toe gegaan, is aan die hof by Octavianus voorgestel, en het hy kompensasie gekry in die vorm van land in die nabyheid van Napels. Of hy sy ou plaas teruggekry het, en of hy ooit weer daarheen gegaan het, is onseker. In Napels het hy die Georgica (gedigte oor die boerdery) geskrywe, aangespoor deur Maecenas, die onoffisiële "Eerste Minister" van die Keiser. Want dit was die politiek van Augustus om die boere terug op die land te bring en om die outydse boeredeugde op te hemel.

In die Georgica vind ons 'n dieper toon as in sy vroeër werk. Die lewe het grof met hom gewerk en hom wakker geskud uit die kunsryke droom waarin hy die enigsins gekunstelde Eclogae geskryf het. Nou het hy 'n dieper besef van die lewensprobleme en 'n dieper meegevoel vir die smart van die mensdom, veral van dié wat, soos hy, hul plase deur oorlog verloor het. Dit is nou nie meer 'n geval van "speel met herdersange" nie: nou is dit deels praktiese werk vir die Vaderland, deels ernstige studie van die mensdom.

Sover ons weet, het Vergilius nooit weer teruggegaan na die noorde nie. Gedeeltelik aan die hof van Augustus en gedeeltelik op sy landgoed by Napels het (67) hy sy digwerk voortgesit. Somtyds, so word ons vertel, het hy 'n hele dag aan een vers deurgebring, voordat hy met die uitslag tevrede was. Aan die hof het hy vir Horatius ontmoet en saam met hom die bekende reis na Brundisium gemaak - wat so lewendig deur Horatius beskrywe is (Sat. I. 5). Intussen het hy die groot Romeinse Nasionale Gedig begin, die Aenéis, wat selfs deur sy tydgenote erken is as iets van blywende waarde. "Iets groter selfs as die Ilias word gebore," roep Propertius in hierdie verband uit. Die omswerwinge en lotgevalle van Aeneas staan as tiepe, nou van die Romeinse volk, nou van die mensdom in die algemeen: en deur die eeue het die gedig nog altyd snare laat tril by mense so uiteenlopend soos Sint Augustinus en Francis Bacon.

"Hier is die vers," sê Myers, "wat Augustinus aanhaal as tiepies in sy majestueuse ritme van al die patos en die glorie van heidense kuns. Hierdie koeplet kon Fénélon nooit sonder trane van bewondering lees nie. Hierdie vers het Filippo Strozzi op sy tronkmuur gekrap, voordat hy sy eie lewe geneem het om aan erger kwaad te ontsnap. Hierdie woorde het vir Savonarola soos 'n trompetgeskal opgewek om die dinge te soek wat bo is. En hierdie lyn het Dante gehoor op die lippe van die Triomferende Kerk, by die opening van die Paradys van God. Hier, ook, is die lang lys van profesieë, béwend opgesoek in die monnik se sel, of weerklinkende in die ore van keisers uit Apollo se heiligdom, as antwoord op die beroep van menige angstige hart op die "Vergiliaanse Lote" - daardie vreemde soort beroep, gedoen, so meen ek, alleen op Homeros, Vergilius en die Bybel[3] die kind van die mens se (68) hartstogtelike verlange om op sy eie lewe toe te pas die wysheid en die skoonheid wat hy in die verlede eerbiedig...... "

In die jaar l9 v. Kr. het Vergilius 'n seereis na Griekeland onderneem. In Atene het hy koors gekry, en op sy terugreis is hy op Brundisium dood. Napels was sy begraafplek.

Maar ná sy dood het sy groter lewe begin. In die Middeleeue was sy verjaardag heilig, hyself 'n soort profeet. Sy boeke het, volgens die algemene opienie, 'n magiese krag uitgeoefen. Die vroeë Kristene het vir hom en Plato in hul skole toegelaat, alleen uit al die heidense skrywers. Sy vierde Ecloga is lank beskou as 'n profesie van die geboorte van Kristus. Dante het hom sy gids gemaak by sy afdaling in die Inferno.

In 'n Middeleeuse Mis word Poulus voorgestel as 'n besoeker aan die graf van Vergilius: wenende spreek hy hom toe : "Grootste van alle digters, het ek jou in die lewe ontmoet, dan sou ek jou 'n Heilige gemaak het."

Vandag nog het hy musiek en wysheid vir die wat ore het om te hoor.

§4. Voorkome en Karakter[edit]

Vergilius was lank en skraal, skaam en met 'n boerse lompheid van beweging, en 'n stadige, prowinsiale manier van praat. Hy was bleek en donkerharig, sieklik en gevoelig. Horatius mag behae skep daarin om deur die verbygangers in die straat aangewys te word (monstrari digito praetereuntium) - vir Vergilius was dit 'n beproewing om in die publiek te verskyn. Sy toga het nooit so mooi volgens die mode gehang nie, en hy het ontuis gevoel onder die deftige stedelinge van die hof. Vir hom gee maar liewers 'n skaduweeryke boom, 'n stroompie, ou klere en 'n boek. Te midde van omringende losbandigheid, was hy by uitstek rein van karakter, met iets van 'n stoïsynse volharding. Die filosoof (69) in hom het altyd gepeins oor die menslike lot en die weemoed van die wêreld gevoel -

"Thou majestic in thy sadness
at the doubtful doom of human kind,"

voeg Tennyson vir hom toe. 'Sunt lactimae rerum' - daar is trane vir die menslike lot, het hy self geskrywe.

Die digter in hom het die lieflikheid van skone woorde dieper en dieper leer ken,

(" All the charm of all the Muses
often flowering in a lonely word.")

en die heksameter-vers so fyn en met so veel sorg gemoduleer dat hy kon toegespreek word as

Wielder of the stateliest measure
ever moulded by the lips of man.

Die menslike hart in hom het 'n tere liefde gehad vir die Natuur, in al sy werke, sowel as vir die lydende mensdom. Oorlog, geweld, ambiesie het hy verafsku. Met Jesaja het hy uitgesien na die tyd wanneer die sonde van die volk uitgewis sal word en die leeu nie meer die skape sal verskrik nie (Ecloga iv. 22).

§5. Die Eclogae[edit]

In 'n sekere sin het die Eclogae ook met die boer te doen. Dit is, weliswaar, 'n gekunstelde boer, 'n nabootsing van Theokritos se baie meer lewendige karakters, maar hier en daar, deur die liefdesklagte van die herders, sien ons egte boeretaferele en boereprobleme.

Daar is hierdie liedere 'n begeerte om na die Natuur terug te keer - al is dit 'n natuur gesien deur 'n romantiese mistigheid. Die nuwe Humaniteit, die nuwe Romantiek, het in hulle op die voorgrond getree; die vierde gedig het Vergilius in die oë van die vroeë Kristene onder die profete saam met Jesaja en Dawid geplaas; aan hierdie digsoort is vasgeknoop die herderspoësie (70) van Spenser in Engeland, en van Hooft in Holland. Punte van aanraking met die Romeinse boer (en met onsself) kom ook telkens voor.

Hier, byvoorbeeld, is 'n beskrywing van 'n warm Italiaanse somersdag waarmee ons seker kan saamvoel.

Ec II.8. Nou soek, ja, selfs die vee die skaad'wee koel,

Groen akkedissies skuil in doringbos.
Die meidjie stamp die slaai van knoflok sterk
Vir maaiers afgemat deur songloed fel.
Maar my geselskap is die skrille besies,
terwyl ek onder skroeiende middagson
jou stappe volg.

Ons ken ook die

Ec. V.82. gesuis van naderende oostewind,

die strand waarop die branders breek, die stroom
wat tussen rotsige valleie loop.

En die herder Corudon sing:

Ec. VII 45. Fonteine mos-begroei en gras so sag,

ja, sagter as die Slaap, arbutus-boom
wat groen met skaad'wee dun jul skuiling gee
beskerm my vee teen somerhitte fel.
Nou kom die skroeiende somer, en reeds nou
swel wingerdknoppies op die buigsaam' rank.

en weer:

Ec. VII 57. Die veld verdor: die gras vergaan van dors;

die lug verpes. Die wyn-god dié misgun
die wingerdskaad'wee aan die heuwels hier. (71)


Dan is daar die verse in Ec. VII. wat Macaulay die skoonste in die Latynse taal genoem het. die herder beskrywe hoe hy vroeg een oggend vir die eerste keer in die appelboord sy geliefde gesien het:-

Ec. VIII 37 Daar in ons boord het ek jou eers gesien,

klein, met jou moeder (ek was gids gewees),
die dou-nat appels plukkend. Tien jaar oud
en nog een was ek skaars, en skaars kon ek
die takke bros toe van die grond af raak.
Ek sien - ek val - die liefde sleep my mee!
Begin, my fluit, 'n lied van Maenalus[4]

Hier is 'n tiepiese tafereeltjie van die manier waar- op die herdersangers te werk gaan :

Ec. V.I.

Menalcas: Gestel nou, Mopsus, nou dat ons ontmoet het

albei bekwaam, jy met die ligte fluit,
ek in die maak van verse, dat ons twee
hiner neersit wat die olme en hasels meng.

Mopsus: Menalcas, jy is oudste : ek moet luister-

waar ons ook gaan, òf onder skaduwees
wat bewe met die wind, òf beter nog,
daar in 'n grot. Kyk, hier is een waaroor
die wilde wynstok skrale trossies strooi......

Menalcas: Mopsus, begin. As jy kan sing van vuur

wat Phullis inspireer, die lof van Alco,
die stryery van Codrus - Kom, begin.
Titurus sal waak terwyl die kudde wei. (72)

Mopsus: Ek sal die lied probeer wat onlangs nog

ek op die bas gegrif het van 'n beuk
(musiek is tussen verse aangegee.)
Daarna, gebied Amuntas mee te ding.

Menalcas: Sover die bleek olyfboom uitblink bo

die wilgerbome slap; die rooi roos bo
die nederige riet; sover, meen ek,
blink jy uit bo Amuntas. Maar genoeg;
hier is ons in die grot.

Eenmaal het twee van die herders vir ou Silenos - heerlike digter en sanger, maar dikwels dronk - aan slaap in 'n spelonk gekry. Hy was nog opgeswel van gister se wyn, en naby lê die kransie wat hy as teken van sy feesviering gedra het, en van sy gord hang die lomp ou drinkbeker. Dikwels het die ou man hul gekul, as hul hom vir 'n lied vra: nou maak hul 'n plan en bind hom lag-lag vas met sy eie kransies. Ewe skaam kom Aegle ook help, Aegle die lieflikste van die waternimfe. Net toe die oubaas ontwaak, neem hul moerbeie en smeer sy slape en voorhoof rooi. Hy lag (want hy was 'n goeie ou siel) en roep uit: "Waarom bind jul my? Maak los, kêrels ! Dis genoeg dat jul die skyn gehad het van my te bind. Jul vra 'n lied: luister dan......" En hy sing hoe die Heelal ontstaan het van kieme uit die Ledigheid; hoe die jong aarde bolvormig gegroei het; hoe die see naderhand afgekamp is; hoe son en reën gekom het; hoe, na die vloed, Purrha en Deukalion klippies agter hul rug gegooi het, wat in mans en vrouens verander het; hoe Prometheus vuur aan die mens gegee het......

Ec. VI. 82. "En al die lied're wat Eurotas[5] eens

van Phoebus self gehoor het en beveel
Phoebus se lourier-bome om te leer,
Valleie galm hul na die sterre toe, (73)
tot Hesperus[6] gebied die skape tel
en kraal toe bring, en stadig opwaarts klim
in hemellug wat gans onwillig was."

Ecloga I beskrywe hoe 'n herder van sy plaas weggeja word ('n sinspeling op Vergilius se ondervinding), hoe vrede weer teruggekom het ('n sinspeling op die Pax Romana van Augustus) en hoeveel dankbaarheid daar was vir die verbeterde toestand van sake. Maar die bevrediging is nog nie algemeen nie: die tyd is nog vol van pynlike teenstellinge.

Meliboeus: Onder die skaad'wee van 'n breë beuk

gestrek, O Titurus, op jou slanke fluit
maak jy jou woudmusiek. Maar ons verlaat
ons tuisplek en die land wat ons bemin,
ons huis verlaat ons: maar jy, Titurus,
gemaklik in die skaduwee, leer die bos
om 'lieflike Amarullis' te weergalm.

Titurus: O Meliboeus, dis 'n god wat ons

dié vredetyd gegee het: want 'n god
noem ek hom steeds; 'n jong lam uit my kraal
sal dikwels met sy bloed sy altaar vlek.
Aan hom te danke is dit dat my vee
(jy sien hul) vry kan wei: deur hom kan ek
op herdersfluit nou speel na hartelus.

Meliboeus: Ek gun jou dit: my wonder groei te meer.

Oral op al die lande lê verwarring:
kyk, siek ja ek my bokke van die plaas;
nee, Titurus, hier is een wat ek moet sleep.
Want onder diggevlegte haselbome
op harde klip het sy haar twelingbokkies,
hoop van die kudde, helaas! gelaat - 'n ramp (74)
wat blitsgetroffe eike vir my dikwels
voorspel het:[7] maar verblind was myverstand.
- Vertel ons, egter, Titurus van jou "god."

Titurus: Die stad wat mense Rome noem - ek dag

(o dwaas!) dit was soos ons ou dorpie hier
waarheen ons dikwels, soos gewoonte is,
die teergevlieste lammers mark-toe dryf.
Soos hond sy pa gelyk, sy ma die bokkie,
sê, dag ek, lyk onse dorpie na die stad,
só vergelyk ek dinge groot met klein.
Maar Rome munt by ander stede uit
soos die sipresse by die biesies slap.

Meliboeus: Waarom so graag dan wou jy Rome sien?

Titurus: Vryheid - [8] wat eind'lik my begunstig het

ten spyte van my luiheid, en nadat
my baard nou witter voor die skeermes val;
tog het sy my begunstig eindelik,
nou dat my liefling Amarullis is
en Galatéa weg is: ek beken,
terwyl my liefling Galatea was,
was hoop om geld te spaar vir vryheid min.
Hoe dikwels ook slagoffers[9] uit my kraal
verkoop is, hoeveel ryke kase ook
gepers is vir ondankbare Rome, nooit
met geld-swaar hand het ek na huis gegaan. (75)

Meliboeus: Ek het gewonder waarom, Amarullis,

jy triestig gode aanroep, en vir wie
die appels ongepluk by jou bly hang:
Titurnus was weg! en, Titurus, die pynboom,
fontein en bos selfs het jou teruggeroep.

Titurus: Wat kon ek doen? Nóg kon ek vryheid kry

nóg elders gode ewe hulpsaam ken.
Daar het ek daardie jongeling[10] gesien
vir wie twaalf, dae ek jaarliks offers brand.
Daar antwoord hy my bede wyl ek bid:
"Laat vee soos eers wei, kêrels : osse groei !"

Meliboeus: Spreek van geluk, ou man! Jou eiendom

sal nog jou eie bly, en groot genoeg,
ofskoon kaal klip dit dek en die moeras
die weiland met sy modder-riet beslaan.
En vreemde veld sal nie jou vee beswaar nie,
as hul bevrug is: beeste van rondom
hul nie besmet nie. Ja, spreek van geluk!
Hier by bekende stroom en heil'ge bron
sal jy die digte skaduwee kom opsoek.
Hier, soos outyds, sal buurmans-wilger-heining
(O, Hubla-bye suig sy blomme graag!)[11]
jou vaak met lig gefluister lok tot slaap.
Hier, onder hoë rots, sal styg die lied
van wingerdsnoeier; nòg, intussen, sal
die hees bosduifies (jy 't hul lief) hul sang
verswyg, nòg van die hemelreikend' olm.
sal ooit die tortelduifies ophou kreun. (76)

Titurus: Daarom sal ligte bokkies in die lug

kan leef, die see eer kaal die vis verlaat,
eer sal die Parter en die Galliër
drink elkeen van die ander se rivier,
eer sy gelaat vanuit my hart sal wyk!

Meliboeus: Maar ons! party sal gaan na Afrika

(dorstige land!), party na Skuthia.
waar snel Oaxes modder-golwe rol,
of na Brittanje, hooploos afgesny
van heel die wêreld. O, sal ek dan ooit,
een verre dag, my eie plaas aanskou,
die turfgeboude dak en skapam'le hut,
ooit met bewond'ring sien die koringhalmpies
min, ja, en arm my 'n koninkryk?
Wat, sal 'n grof soldaat die land besit,
so mooi bebou? barbare hierdie veld?
Sover het burgerstryd ons arme volk
gebring: ons saai, en kyk wie maai ons land!
Ent nou jou peerboom, Meliboeus, plant
jou wingerdrye! Voort, my kudde, nou,
voort kudde! eens gelukkig! Hierna nooit
sal ek, in groene grot gestrek, jul sien
hang in die verte van bosryke rots.
G'n lied sal ek meer sing nie, onder my
sal jul nie meer op bloeiend' cutisos
of bitter wilgerheininge kan wei.

Titurus:Maar hier vir hierdie nag kan jy met my

op groen loof uitrus: appels sag van geur
is hier, kastaiings sag, en volop kaas;
en kyk, daar rook die veraf skoorsteen reeds
van hoë heuwels val die skaad'wees lank. (77)

§6. Georgica[edit]

Varro het sy boek oor die boerdery gepubliseer net voor Vergilius die Georgica begin skryf het. Ongetwyfeld het Vergilius van die de Re Rustica gebruik gemaak, asook van die Griekse skrywers oor die onderwerp. Daarby het gekom sy eie ondervinding. Oor die algemeen het die eksperte die wetenskaplike sy van die gedig aangeneem. Columella, wat enige jare later oor die landbou skryf, neem hom aan as 'n outoriteit. Die afwisseling van oeste en braak lê van lande word deur Vergilius as algemeen bekend genoem; maar dit is eers in die 18e eeu in sommige Europese lande in praktyk gebring.

Die gedig is egter meer as 'n landbou-joernaal: dit is kunswerk. Nie alleen vind ons daarin die musiek en verbeedingskrag van 'n fynbesnaarde gemoed nie, nie alleen die onvergeetlike uitdrukkinge van 'n silwer tong nie: ons vind ook digterlike insig in die maatskaplike kwale van die tyd en 'n poging om skoonheid en egtheid en eenvoud te verkry in plaas van die aaklige gekunsteldheid van die stad met sy ingewikkelde probleme.

Soos Rousseau het Vergilius gevoel dat die euwels van die tyd grotendeels daaraan toe te skrywe was, dat die Romein buiten voeling met die Natuur geraak het. Hy skilder die rykdom van die weelderige stedeling, die gewoel van roemsugtige Rome, die teenstelling gevorm deur vernederende armoede in dieselfde stad, en toon aan dat geluk nie langs daardie weë lê nie. Die boer se lewe mag hard wees, maar die aarde is regverdig - iustissima tellus. Weelde mis die boer, maar dan ook mis hy die bedrog en onegtheid van die stad -

At secura quies et nescia fallere vita.
(Kommervrye rus en 'n lewe waaraan bedriëry vreemd is." (78)

Ons vind die idee dat die volk gesondig het, deur toe te gee aan ambiesie en mag te soek met geweld. In die voorafgaande eeu was daar twaalf burgeroorloë en 'n lang lys van politieke moorde, eindigende met Caesar en Cicero. Vergilius bring aan sy landgenote die boodskap dat hul nog gered kan word, as hul terugkeer na die eenvoud en die egtheid van die outydse boerelewe. Op ekonomiese sowel as op morele gebied, was daar redding, langs dié weg. "Arbeid adel," sê Vergilius. "Die Vader self het gewil dat die boer se pad swaar moet wees." Deur arbeid vervul die mens sy roeping en ontwikkel sy gees. Anders sou hy nooit verder gekom het as die diere nie, en sou maar dood tevrede gewees het om in luiheid agteruit te gaan. Die boer se roeping is om die wette van die weer en aarde en plante te leer ken, sodat hy "die lande aan sy bevele onderdanig kan maak" en oor hul as koning regeer. Altyd moet hy waak teen die neiging van alle aardse dinge om terug te val en agteruit te gaan, net soos 'n roeier wat stroom-op roei en skielik sy spiere verslap.

En dan ook, dit is goed vir die mens se gees om in aanraking met die Natuur te wees, want so kom hy ook in aanraking met die Goddelike Gees agter die Natuur. In teenstelling met Lucretius (onder wie se invloed hy grotendeels gestaan het) glo hy in 'n Vader van die Heelal wat die boer deur arbeid wil ontwikkel.

So, in die belange van sy land, maak Vergilius 'n beroep nie alleen op die hoof nie, maar ook op die verbeelding, op die hart en op die skoonheidsin van sy leser. (79)

Voetnotas[edit]

  1. Heitland: Agricola p. 192.
  2. Die Romeinse godsdiens het hom hoofsaaklik besiggehou met teologie en seremonies: sedelike godsdiens is verteenwoordig in die later tyd van die Republiek veral deur twee skole - dié van Epicurus en dié van Zeno (die Stoïsyne). Die Epicureërs het geglo dat geluk die doel van die lewe is: die Stoïsyne het plig voorop gestel. Deur geluk het Epicurus hoofsaaklik bedoel geestelike geluk; maar die gepeupel het dikwels 'n laer interpretasie daaraan gegee. Nog 'n punt van verskil tussen die twee skole was dat die Stoïsyne in 'n Voorsienigheid geglo het, terwyl die Epicureërs gemeen het dat die wêreld deur die werking van blinde natuurwette gevorm is. Epicurus het reeds in die 4de eeu v. Kr. die teorie van atome verkondig, waarmee die moderne wetenskap nog soseer besig is.
  3. Die metode van die inroeping was om die boek toevallig op enige plek oop te slaan, en die eerste woorde wat die oog ontmoet, aan te neem as die deur God gegewe raad.
  4. Lied van Maenalus d.i. 'n herderslied. Maenalus was 'n berg in Arkadië (middel van die Peloponnesus, Griekeland) waar die god Pan en die Arkadiese herders hul musiek en poësie op die heuwels gemaak het.
  5. Eurotas rivier in die Peloponnesus.
  6. Hesperus die aandster.
  7. Blitsgetroffe eike was besonder heilig. Die geritsel van die blare word beskou as die toekoms voorspellende.
  8. Titurus, in die enigsins verwarde skema van die Eclogae, word voorgestel as 'n slaaf, wat op sy ou dag, sy vryheid in Rome met sy spaargeldjies (peculium) gaan koop het.
  9. vee om as offerande te dien.
  10. Augustus.
  11. Hubla gebergte in Sisielië, beroemd vir sy heuning. Vgl. Shakespeare: "Rob the Hybla bees and leave them honeyless".