Die Romeinse Boer/Naskrif

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Boek IV Oor Bye Die Romeinse Boer
Naskrif
deur T.J. Haarhoff


Naskrif.

Die Digter en die Werklikheid.[edit]

So het Vergilius gesing. Hy eindig met 'n sinspeling op die Eclogae, maar die digter van daardie gedig is nie dieselfde as die digter van die Georgica nie: lighartige jeug het plek gemaak vir die dieper geestesontwikkeling wat ondervinding van die lewe meebring. Nie meer is dit romantiese droom-herders wat hy besing nie: boereprobleme en volksbehoeftes dwing sy aandag. Die praktiese werklikheid van die oomblik spoor hom aan: Maecenas en Augustus se regering reken op sy hulp. Hy besef ook die moeilikhede van die enkeling. Die boer se lewe is swaar (die Vader self het dit so gewil) en gedurig moet hy worstel met die magte van die natuur. Daar pestilensie onder die vee, siekte, onder die bye, koue wat verkluim en hitte wat verniel, storm en vloed en altyd die onvoorsiene ramp wat dreig. Altyd moet die boer waak teen die ingebore neiging tot agteruitgang wat in alle menslike dinge steek; aan alles, as hy sukses wil hê, moet hy onvermoeide arbeid gee. Daarom wil die digter met al die pratrtiese raad waaroor hy beskik, die boer te hulp kom - raad gegrond op sy eie ondervinding of geput uit die voorvaderlike oorlewering of uit die boeke van sy tyd versamel. Onvolledig en foutief soos sy voorstelling op meer as een plek is, bevat dit nogtans raadgewinge wat dikwels met ons eie praktyk saamstem.

Maar daar is 'n ander sy van die boer se lewe wat net so werklik is. Die natuur is regverdig en beloon diegene wat haar met trouheid dien. Daar is tye van gulheid waarin sy vrug na vrug glimlaggend voortbring.

Onafgebroke die stroom, en die jaar oorvloei met sy vrugte; (184)
Die jaar is volop met vee en die halme van Ceres se graangerf;
Belaai is die vore met koring, die skure bars oop met hul oeste.

Italië met sy heuwel-stede en sy riviere wat soetjies voortgiy onder die oeroue mure, word liefderyk en bewonderend beskrywe. Skoonheid en vrugbaarheid is sy deel; die lewe op sy velde het -

Rykdom fyngeskakeer, en die vrede van breë landderye;
Grotte, natuurlike mere en koel, koel Tempe-valleie,
Ja, en gebulk van osse, en sagte slaap onder bome.

Sy klimaat, sy natuurtonele, sy diere word almal besing; en dan is daar sy volg -

Dapper die ras van haar helde, Masi, Sabelliese jeug,
Liguriër gewoon aan swaar-kry, die Volsci met spere gewapen...

Die lof styg op totdat dit by die mense kom, van wie Augustus, die hersteller van vrede, vir Vergilius die vernaamste is; en dit is asof die digter wil sê: Hier is 'n land pragtig deur die natuur ingerig, geseën bo menige ander wêrelddeel - waarom sou die inwoners daarvan die tonele van die vorige eeu herhaal en nadruk lê op hul punte van verskil? Is dit nie 'n skending van hul natuurlike voorregte nie? Is die samewerking tussen Rome en die Italiese stede - een van Cicero se ideale - nie die aangewese weg nie? Ons het almal gesondig deur al te haastig te oordeel en deur gehoor ter gee aan agterdog en selfsug: laat ons nou mekaar leer vetstaan.

Romein en Italiër, kapitalis en werksman, handelaar en boer - almal is nodig vir die volle ontwikkeling van die Romeinse Staat: hoe gouer hul leer saamwerk, hoe beter. Maar die digter sien dat die wortel van die saak geestelik is. Eenmaal was die Romeine eenvoudig en hul staatsmanne wys en eerlik. Die ou raadgewers wat (185) in die 4e eeu v. Kr. vir die eerste keer in die wêreld se geskiedenis 'n egte 'federale sisteem' uitgedink het, dwing nog ons bewondering af. Maar rykdom het met mag begin invloei, staatsmanne het met dubbelsinnige motiewe begin werk, inhaligheid, oneerlikheid, onreinheid, burgerooriog het die volk sedelik en op stoflike gebied verwoes. Die stoere deugde waardeur Rome "die skoonste ding in die wêreld" geword het, het grotendeels verdwyn. En Vergilius voel dat die Romein iets van sy vroeër geestelike krag kan herwin deur aanraking met die natuur. Want sy bring die rustelose mens, aangespoor deur 'n mag van hartstogte, in harmonie met ewige rus: aan sy koorsagtigheid gee sy die seën van vaste vrede. Eenvoud en reinheid is haar boodskap vir die wat ore het om te hoor; skoonheid ontvou sy vir die wat kan sien.

"O, al te gelukkig die boere, besef hul maar net hul seëns!"

En verder as die Romeinse boer, dieper as die Romeinse volk, loop die gedagte van die digter. Hy het 'n tere meegevoel met die hele skepping - met diere en met mense. Met weemoed aanskou hy die warreboel van die menslike lewe : sunt lacrimae rerum, sê sy held Aeneas -

Trane is daar vir die lewe en die menslike lot raak ons harte.

En wie kan vergeet sy beskrywing van diere? Die kraaie wat, verheug deur 'n misterieuse vreugde," met hul vlerke tekeer gaan na die reënbui; die seevoëls wat juigend op die branders rondspeel; die os wat treur oor sy sterwende ploeg-maat; die bye wat in opgestelde slagorde en met hul nietige hartjies vol reusemoed die geveg onder hul "konings" aanknoop, en dan tot rus gebring word deur die uitstrooi van 'n handvol stof - sulke beskrywinge toon ons hoe wyd en hoe teer sy meegevoel is. Net so is sy houding teenoor die mens. Self (186) 'n filosoof, voel hy vir die wysgeer, Lucretius, wat die oorsake van die Heelal wil deurgrond en die mens wil verlos van bygelowige vrees -

Gelukkig is hy wat hom leer om te weet van die wêreld se oorsprong,
Hy wat die vrees van die mens en die onverbidlike Noodlot
Onder sy voete verwerp en die donder van gulsige Hades.

Ja, maar daar is die standpunt van die eenvoudige boer, - met hom kan Vergilius ook meevoel;-

geseën inteendeel ook hy, wat die landlike gode geken het
Pan en Silvanus, die grysaard, die susterskap van die Nimfe......

In teenstelling met Lucretius, wat hom anders soseer beïnvloed het, dink hy aan God as 'n Vader, en aan sy Gees as die oorsaak van lewe in al die dele van die Skepping. Soos Jesaja, wat soos hy geskrywe het in 'n tyd van oorlog en beroering, sien hy uit na die tyd wanneer 'n kind gebore sal word wat 'n nuwe wêreldorde sal aankondig en vrede op aarde sal instel. Die spore van sonde en burgeroorlog sal uitgewis word: die natuur sal met haarself versoen raak.

Self sal die bokke hul uiers melk-vol na krale terugbring,
Weg sal ook wees die vrees van die vee vir die magtige leeus.

Die Goue Eeu sal terugkom en die gees van die mens sal harmonieer met die liefderyke gulheid van die natuur. Aan die end van die Eerste Boek van die Georgica het Vergilius met huiwering geskrywe:

Die gekromde snoeimesse smelt hul en vorm die onbuigsame swaarde, (187)

maar nadat die Vrede van Augustus hom meer en meer begin vestig het, word sy toon meer soos dié van die profeet Miga, wat uitsien na die tyd wanneer die swaard tot in ploegskaar geslaan sal word en die speer tot 'n snoeimes, en wanneer die volkere nie meer hul hande teen mekaar sal verhef nie (Miga IV. 3). Op een van die Franse Katedrale is daar 'n opskrif aan Vergilius: 'O Maro, profeet van die Heidene, bring u getuienis aan Kristus." En as ons deur die uiterlike vorm deurdring en die gees van die digter verstaan en waardeer, hou ons op om verwonder te wees dat die Kristene van die Middeleeue hom as 'n profeet gereken het en in hom gesien het 'n 'siel Kristelik van natuur" - anima naturaliter Chrisrtiana. In 'n tyd wat, soos sy eie, verskeur is tussen oorlog en weelde, bring ons die boodskap dat "die koninkryk van die Hemele binne in ons is, en dat die Goue Eeu sy fondament moet hê in berou vir misdade in die verlede en opgebou word in geregtigheid en liefde."[1] (188)

Voetnotas[edit]

  1. Mayor Messianic Eclogue bl. 120.