Die Romeinse Boer/Georgica III

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Boek II: Oor Bome Die Romeinse Boer
Georgica, Boek III: Oor Vee
deur T.J. Haarhoff
Boek IV: Oor Bye


Georgica. Boek III.

Oor Vee.[edit]

1-48. Vee, en die gode waaronder hul staan. Die ou legendes is afgesaag, en ek moet 'n nuwe pad na beroemdheid vir my baan: ek sal 'n tempel ter ere van Caesar Augustus bou, versier met 'n voorstelling van al sy oorwinnings. Intussen moet ek die taak voortsit wat Maecenas aan my opgedra het.

U ook sal ek besing, magtige Pales, en u, roemwaardige herder van die Amphrusos, en u, rieviere en woude van Lucaeos. Die res, wat ledige geeste sou kon boei met hul gesang, is almal reeds uitgewerk: wie het nog nie gehoor van die wrede Eurustheus, of die altare van vervloekte Busiris nie?[1] Wie is nog nie vertel van die jonge Hulas, van Delos, eiland van Latona, van Hippodame en Pelops, ywerige ruiter, uitgeken deur sy ekouer van ivoor nie?[2] 'n Pad moet ek probeer, waarlangs ek ook kan styg en oorwinnend vlieg op die lippe van mense. Ek sal die eerste wees, hou (133) my lewe net, om die Muses huis-toe na Italië te bring van hul Aoniese heuwel af;[3] die eerste om aan u, my Mantua, die palme van Edom[4] terug te bring, en op die groen gras 'n tempel van marmer te bou naby die water, waar magtige Mincius[5] langsaam kronkelend dwaal, en sy oewers borduur met die tere riet. In die middel sal Caesar die inwoner van my tempel wees; tot sy eer sal ek, opvallend in Tieriese purper, 'n honderd vier-span-strydwaens triomferend dryf by die rivier. Vir my sal die hele Griekeland, Alpheus en die woude van Molorchus verlaat en wedywer[6] met hardloop op die (134) renbaan of met die ongelooide boksriem. Ek self, bekroon met blare van die skoongeplukte olyftak, sal offerande bring. Reeds nou is dit goed om die statige optogte te lei na die tempels, en die slagting van die stiere te aanskou;[7] of te sien hoe die agtergrond van die toneel uiteengaan, terwyl die skerms omswaai, of hoe die ingeweefde Britanni oprys op die purper gordyne.[8] Op die deure sal ek in goud en soliede ivoor die geveg van die Gangarides uitbeeld, en die wapens van oorwinnende Quirinus;[9] hier sal ek voorstel die Nyl wat swel met oorlog in volle vloed, en die pilare wat oprys, versier met die brons van gevange oorlogsskepe: en daarby die verowerde stede van Asië en Niphates deur ons verslaan, en die Parte wat vertroue stel in vlug en pyle agterwaarts geskiet; en twee wapentrofeë, gewen op vyande vér verwyderd, en nasies (135) aan albei kuste,[10] oor wie tweemaal triomf gevier is. Daar ook sal staan lewende beelde uit Pariese marmer, - die nakomelinge van Assaracus[11] en name van die ras afkomstig van Juppiter, ou vader Tros, en hy van Cunthos,[12] wat Troje help bou het. Ongelukkige Afguns sal die Furieë vrees, en die gestrenge rivier van Cocutos, en die deurvlegte slange van Ixion, en die vreeslike wiel, en die klip wat nooit tot bo gerol kon word nie.[13]

Intussen, Maecenas, laat ons die woude van die boomnimfe volg en die onafgekapte bosland, - u gebod, nie maklik om uit te voer nie. Sonder u begin my gees niks verhewens nie: kom dan, weg met lui oponthoud! Met luide stem roep Cithaeron en die jaghonde van Iaügetos en Epidaurus wat perde tem; - die geroep weerklink, verdubbel deur die toestemmende woud.[14] Maar spoedig omgord ek my om te sing van Caesar se vurige gevegte, en om sy naam op die vleuels van roem (136) af te voer langs die jare, - soveel jare as die wat lê tussen hom en die geboorte van Tithonus.[15]

49-102. Die aanteel van perde en vee. Goeie punte in 'n hings. Reisiesperde en oorlogsperde.

Wie ook perde aanhou uit bewondering vir die prys van die Olimpiese palm, of sterk stiere vir die ploeg, laat hom besonder versigtig wees in die uitsoek van moeders. Die beste soort koei is isegrimmig van fatsoen, kop lelik, nek geweldig, en keelvlies wat hang tot by die bene; g'n grens aan die lengte van haar sy nie; alles groot, ook die voet en harige ore onder gekromde horings. Ook sou ek nie afkerig wees van een wat gemerk is met wit stippels, of van een wat traag is vir die juk en soms onstuimig met haar horing, en amper soos 'n stier van aansien, en wat hoog staan in haar hele lengte, met 'n stert wat haar voetstappe vee as sy loop nie. Die ouderdom vir regmatige huwelik en geboortepyne hou op voor die tiende en begin na die vierde jaar. In ander jare is sy nòg vir aanteel goed, nòg sterk in die ploeg. Tussen daardie jare, terwyl die kudde blye jeug besit, laat los die stier; wees die eerste om jou beeste te laat paar, en van geslag tot geslag hou die ras gaande. In ons ongelukkige menslike lewe is dit al die beste dae wat die eerste is om weg te vlug: later kom siektes en treurige ouderdom en pyn, en onmedoëloos sleep die wrede dood ons weg. Altyd sal daar vee wees wat jy wil omruil; maar altyd moet jul hul aanvul, en sodat jy nie later berou het van wat jy verloor het nie, kies uit vroegtydig elke jaar jong vee in plaas van die oues.

Op die selfde manier ook moet aanteelperde gekies word: alleen pas op dat jy van die jongste jare af jou (137) besondere sorg bestee aan die wat jy wil oplei om die hoop van die ras te word. Van die staanspoor af, stap die opregte vulletjie hoogmoediger as ander in die veld, en plant sy voete ligter neer. Hy het moed om voor te loop en dreiende riviere te probeer, hom aan 'n onbekende brug toe te vertrou en nie vir 'n ydel geraas te skrik nie. Hoog is sy nek en welbesneë sy kop; kort is sy maag en sy rug vet; sy hoogmoedige bors is weelderig met spiere. Opregte perde is bruin en blou: die slegste is wit en geel. Dan,[16] as wapens op 'n afstand ratel, weet hy nie hoe om stil te staan nie, sy ore flikker, en sy bene bewe, en hy rol onder sy neusgate 'n digte wolk van vurige asem. Sy maanhare is dik, en as hy dit opgooi, lê dit op sy regterskouer. Tussen sy lendene loop 'n dubbele rif, en hy hol die aarde uit, en sy hoef van soliede horing maak groot geraas. Só was daardie Cullaros wat getem is deur die toom van Amuclaeïese Pollux en die tweejuk-perde van Mars, genoem deur die Griekse digters, en die span van magtige Achilles. Só ook het die vlugge Saturnus self sy maanhaar oor sy perdenek uitskud, by die aankoms van sy gade, en hoë Pelion met sy skerp gerunnik al vlugtende vervul.[17] (138)

En as hy agteruitgaan deur die druk van siekte of verloop van jare wat dof en stadig maak, sluit hom alleen op, en vergeef nie die skande van sy ouderdom nie. Ouderdom is koud teenoor liefde, en vergeefs verleng dit die onbegeerlike taak, en as dit tot 'n geveg kom, soos soms 'n vuur onder die stoppels, uitgestrek maar sonder krag, woed hy vergeefs. Daarom moet jy voor alles op gees en jeug let; daarna sy ander verdienstelikhede, die geslag van sy ouers, elkeen se verdriet by neerlaag en sy self-verheerliking as hy die prys behaal.

103-122. Die renwaens in die Circus.

Sien jy nie, wanneer blindelings in die wedstryd die renwaens skielik uitskiet op die baan, en snel voortstroom van die stalletjies af, wanneer die jong drywers se hoop hoog styg, en trillende angs die bloed opdrink in hul harte? Daar dreig hul met die kronkelende sweep, leun ver oor en gee teuel: geweldig vlieg die gloeiende wiel. Nou laag, nou hoog opgeskud, lyk dit of hul deur die leë lug gevoer word, en opstyg hemelwaarts; g'n oponthoud, g'n rus is daar nie; maar 'n stormwolk van donker stof rys op, hul word bespat met die skuim en asem van die wat volg: so groot is hulle liefde vir lof, so dierbaar is hul die oorwinning.

Erichthonius[18] was die eerste wat gewaag het om vier perde voor die renwa te span, en, vlieënd, oorwinnaar op die wiele te staan. Die Lapithae van Thessalië op hul perde het ons die toom en die kringloop[19] gegee, en die perd geleer om onder wapens op die grond te dans, en hoogmoedig sy pote te krom as hy (139) stap. Vir albei is die taak gelyk, vir albei soek die baas jeug en vurigheid van gees en snelheid van voet, hoe dikwels ook 'n ander soort die vyand al vlugtende voor hom uit gedryf het, en hom beroep op Epirus en heldhaftige Mucenae as sy vaderland, en sy geslag terugvoer op die ras van Neptunus self.

123-156. Voeding van hings en van merries. Aanteel-merries moet rus hê en stille weivelde.

Hierdie dinge neem hul in ag en word besiger as die tyd nader, en dra alle sorg om met vaste vet hom uit te vul wat hul gekies het as leier en as gade van die kudde genoem het. Vir hom maai hul blommende gras af, en bedien hom met rivierwater en koring, sodat hy nie faal in sy soete taak nie; 'n swak kroos wys terug op sleggevoede vaders. Maar met opset maak hul die merries maer en as die reeds gekende plesier hul aanspoor om saam te kom vir die eerste keer, weerhou hul die blare en keer hul af van die fonteine. Dikwels ook maak hul hul moeg met hardloop, mat hul af in die son, terwyl die dorsvloer swaar kreun onder die uitslaan van die koring en die leë kaf rondvlieg by die opkom van die westewind.

Dan weer begin die sorg van die vaders af te neem, en dié van die moeders neem die plek daarvan. Wanneer die aanteelmerries rondloop by die vervulling van hul maande, moet niemand hul toelaat om in die juk te trek voor swaar waens, of om oor die pad te spring, en snel oor die land te vlug, en in stortende riviere te swem nie. In leë woudveld laat hul vir hul wei, en langs vol riviere, waar daar mos is, en die oewer baie groen met gras, in die skuiling van 'n spelonk, en waar die rotsskaduwee uitgestrek lê.[20] Om die bosse van Sila (140) rus en Alburnus, groen met eike, is daar 'n swermende vlieg wat die Romeine asilus noem - oistros sê die Grieke in hul taal, - 'n vlieg, bars en met skril geluid, wat hele kuddes verskrik deur die woud laat vlug: die lug en die bosse en die oewer van droë Tanagrus[21] beef en word mal van hul gebulk.

Met hierdie haatlike dier het Juno eens haar vreeslike wraak uitgeoefen, toe sy die plaag bedink het vir die kalf-dogter van Inachus.[22] Dit ook moet jy afkeer van die bevrugte vee (want gedurende die middaghitte val dit skerper aan), en jou kuddes moet jy laat wei as die son pas opgekom het, of as die sterre die nag inlei.

157-178. Behandeling van kalwers.

Na die geboorte gaan jou hele sorg oor tot die kalwers. En al dadelik word hul gebrandmerk met die tekens en simbole van hul klas, die wat jy wil grootmaak vir aanteel, die wat jy wil heilig bewaar vir slagoffers, en die wat jy die aarde wil laat klief en die ruie land wil laat omploeg, en sy kluite opbreek. Die ander vee wei in die groen gras. Die wat jy wil oplei vir die werk en praktyk van die boerdery, moedig hul aan in hul jeug, en laat hul gaandeweg getem word terwyl hul buigsaam van inbors is, en vormbaar van jare. En in die eerste plek, maak om hul nekke los ringe van ligte biesiesgoed vas; dan, as die vrye nek gewoon geraak het aan slawerny, maak hul in pare vas aan hierdie selfde halsbande en laat hul in tyd voortstap. En laat hul nou ongelaaide wiele dikwels oor die grond trek, en spore net so op die oppervlakte van die stof nalaat. Daarna laat die beukhout-as kraak met die stremming van 'n swaar vrag, en die disselboom, met brons beslaan, (141) die saamgevoegde wiele trek. Intussen, voor hul getem is, moet jy vir die jong vee nie gras alleen afsny of dun wilgerblare of vleigras nie, maar ook die koring wat jou hand gesaai het. En die moeder-koeie sal nie, volgens die gebruik van ons vaders, die sneeuwit melkemmers vul nie, maar al hul uiers vir hul dierbare kinders leegmaak.

179-208. Sorg van vulletjies vir oorlog of die renbaan bedoel.

Maar as jou begeerte liewer is in die rigting van oorlog en strydlustige ruitertroepe, of om in jou renwa te rol langs Alpheus, rivier van Pisa, en die vlieënde span te dryf in die woud van Juppiter, dan is die eerste taak van die perd om wapens en hooghartige stryders te aanskou, die trompetgeskal te verdra, en die geraas van die wiel as dit getrek word, en die geratel van die toom in die stal; dan, meer en meer, behae te skep in die soete lof van die baas, en te bemin die geluid wat hy maak as hy sy nek strelend klop. En laat hom dit ook net na hy gespeen is, waag, - laat hom om die beurt sy bek aan sagte halters oorgee, onsterk en béwende soos hy nog is, en nog onervare in die lewe. Maar as drie somers verby is, en die vierde bygekom het, laat hom daarna in 'n kring omloop en met gereelde stap rondkletter, en sy bene om die beurt krom en buig, en laat hom lyk of hy werk. Dan, laat hom die winde uitdaag om te hardloop, en vlieënde oor oop velde asof hy los was van die teuel laat hom skaars met sy pote die oppervlakte van die grond raak - soos wanneer die noordewind met dik wolke van die Huperboreaanse kuste[23] af neerval, en die waterlose winterwolke van Scuthia[24] voor hom uitsprei: eers sidder die (142) diep gesaaides en die golwende lande met sagte winde; dan raas die bostoppe, en die lang branders rol haastig na die strand; en hy, hy nader al vlieënde, en vee in sy vlug tegelyk die velde en die see.

Daarna sal hy òf sweet by die renpale van Elis[25] oor geweldige afstande, terwyl die bloedige skuim by sy mond aftap, òf des te beter met buigsame nek die Belgiese kar voorttrek. Dan, eindelik, as hul getem is, laat toe dat hul liggaam groot groei met grof gemende kos. Want voor hul getem is, sal hul erg hoogmoedig wees, en hul sal weier, as jy hul wil gebruik, om die buigsame sweep te verdra, of die wrede toom te gehoorsaam.

209-241. Behandeling van bulle.

Maar g'n sorg maak hul sterkte vaster nie, as om liefde en die blinde prikkels van hartstog weg te hou of dit osse is wat jy liewer wil gebruik, en of dit perde is. En daarom word die bul nie ver in 'n eensame weiveld verban, agter 'n versperrende berg of oor breë strome, of word opgesluit by die volle krip gehou. Want die wyfie maak geleidelik inbreuk op sy kragte, en verteer hom deurdat hy haar sien, en laat hom nie toe deur haar soete verlokking om te dink aan bos en weiveld nie; en dikwels dwing sy die hoogmoedige minnaars om oor haar met hul horings te besluit. Daar op uitgestrekte Sila[26] wei die skone verskalf: hul bots saam in geweldige stryd, met beurtelinge stote en veelvuldige wonde; donker bloed baai hul lywe; hul horings, onder geweldige gekreun, stoei hewig teen mekaar, die woude en die uitgestrekte hemel weergalm daarvan. En die gewoonte is dat die vegters nie in dieselfde stal woon nie, maar die wat die neerlaag ly, verwyder hom en leef (143) in ballingskap ver in vreemde streke; sy skande en die wonde geslaan deur die hoogmoedige oorwinnaar, bekreun hy gedurig, en die liefde wat hy, ongewreek, verloor het; en met 'n blik op die stal, verlaat hy sy voorvaderlike koninkryk.[27]

Daarom, met alle sorg oefen hy sy krag, en lê gedurig op 'n kaal bed tussen die harde rotse, en voer homself met doringagtige blare en skerp palmiet, en toets homself, en leer hoe om woede met sy horings aan te toon deur teen 'n boomstam te stoot, en daag die winde uit met sy slae, en strooi die sand rond as voorbereiding vir die geveg. Daarna, as hy sy mag vergader en sy krag verfris het, tree hy aanvallend op en loop sy vyand onbedags blindelings storm; soos wanneer die brander begin wit word in die middel van die see, en sy waterplooi verder uit die diepte trek, en landwaarts rollend vreeslik donder oor die rotse en neerslaan, groot, eintlik, as 'n berg; en die golf kook op van onder in draaikolke en gooi die swart sand hoog op die strand.

242-283. Die hartstog van die liefde, wat deur die hele skepping loop.

Ja, almal op aarde, die geslag van mens en bees en die rasse van die see, vee en veelkleurige voëls, almal snel toe op die waansinnige vuur: vir almal is liefde dieselfde. Op g'n ander tyd dwaal die leeuwyfie, haar welpe vergetende, woester op die veld, of verslind die lompe beer so baie lewens in die bos, met so 'n geweldige vernieling; dan is die wilde vark wreed, en die tier op sy ergste: a, sleg dan is dit om in die eensame velde van Libua te dwaal! Sien jy nie hoe die hele liggaam van die perd van vrees tril nie, as maar net die bekende reuk deur die wind aangewaai word? Dan (144) hoe nòg teuels van mense, nòg wrede swepe hom terug, nòg rotse, nòg spelonke, nòg versperrende strome wit berge in hul vloed aanpak en wegwarrel. Die Sabelliese swyn self loop storm met skerpgeslypte tande, en vertrap die aarde voor hom, vryf sy sye teen 'n boom, en verhard op hierdie kant en op daardie sy lendene teen wonde. En wat omtrent die jongeling[28] in wie se hart wrede liefde sy magtige vuur aan die brand hou? Laat in die donker nag swem hy oor die see, onstuimig met barstende storme: oor hom donder die geweldige poort van die hemel, en die see weergalm met botsing teen die rotse. Hom kan nòg sy ongelukkige ouers terugroep, nòg die jonkvrou wat ook vroeg haar wrede dood moet ontmoet. En wat omtrent die gespikkelde lunkse van Bacchus, en die fier geslag van honde en wolwe? Wat omtrent die gevegte van die saggeaarde herte? Gewis, bo almal is die hartstog van die merries in die oog lopend. Venus self het hul daarmee besiel op die dag toe die vierspan van Potniae Glaucus se lede met hul bekke verskeur het.[29] Oor Gargarus en oor die donderende Ascanius lei hulle die liefde; berge trek hul oor, en hul swem deur riviere. Al dadelik, as die vlam hul reeds gretige harte aansteek, (meestal in die lente, want in die lente kom hul innerlike hitte terug) draai hul almal hul koppe om, en staan weswaarts starend op hoë rotse en vang die ligte luggies op, en dikwels, sonder om te paar, word hul (wonderlik om te vertel) deur die wind bevrug, en vlug verspreid weg oor rotse en klippe en laaggeleë valleie, nie na (145) die aanbreek van u, o Daeraad, of die opkoms van die son nie, maar na die noorde en die noordwes-winde, of waar die swart suidewind voortkom, en die hemel treurig maak met reën en koue. Dan is dit dat die slymerige gif wat herders met reg hippomanes noem, van hul afdrup, gif wat stiefmoeders dikwels vergader en meng met kruie en dodelike toorformules.

254-338. Skape en bokke. Hul versorging in winter, en hul somer-weiland.

Maar die tyd vlug weg intussen, vlug weg en is onherstelbaar, terwyl ons, bekoor deur ons lied, oor ieder besonderheid vertoef.

Genoeg van beeste: die ander deel van ons taak bly oor - die sorg van woldraende skape en langharige bokke. Hier is werk; hieruit, stoere herders, hoop op lof. En ek twyfel nie in my gemoed nie hoe groot 'n taak dit is om my onderwerp met woorde te oormeester, en eer te verleen aan dinge so nietig. Maar my voer die soete liefde vir poësie oor die eensame hoogtes van Parnassus; my verheug dit om oor die heuwels te reis waar g'n pad, deur voorgangers betree, afdraai na Castalia[30] langs die sagte helling nie.

Nou, eerbiedwaardige Pales, nou moet ek sing met groot waardigheid. In die eerste plek verklaar ek dat skape hul voer in die sagte krale moet eet, totdat aanstons loofryke somer terugkeer, en dat die harde grond onder hul bestrooi moet word met baie hooi en bondels varing, sodat die bytende ryp die tere kudde nie beskadig en skurfte bring of lelike klouseer nie. Verder beveel ek vir die bokke volop arbutustakke en vars rivierwater, en windbeskutte stalle wat uitkyk op die winterson suidwaarts, dan wanneer die kil Aquariusster reeds (146) wegsink, en met reën die end van die jaar besprinkel.

Bokke moet ons nie met minder sorg oppas nie (net so groot sal die profyt wees, hoe groot 'n prys ook vliese van Miletus,[31] geverf met Tieriese purper, behaal). Hul teel vinniger aan, van hul kom 'n voorraad volop melk: hoe meer die melkemmer geskuim het as die uier leeg is, des te meer sal (die volgende maal) ryk strome uit die gedrukte tepels vloei. Nie minder nie, intussen, knip 'n mens die baard en wit ken van die Afrikaanse bok, vir die gebruik van die oorlogskamp en bedekking vir die ongelukkige matrose. Hul wei in die woude en op die hoogtes van Lucaeos, en vreet die stekerige brame en die bossies wat die steiltes bemin; en vanself onthou hul, en kom huis-toe, en lei hul kroos, en kom skaars oor die drumpel met hul volle uiers. Daarom des te meer, omdat hul minder behoefte het aan menslike sorg, sal jy die ryp en die sneeuwinde van hul afkeer, en blymoedig hul voed en van blarevoer voorsien, en nie die hele winter jou hooisolders toesluit nie.[32]

Maar as die vrolike somer, op uitnodiging van die westewind, albei kuddes die bosse en die weilande instuur, dan, met die vroegste opkom van die dagster,[33] laat ons die koele velde bewandel, terwyl die oggend jonk is, en die grassies wit met ryp, en die doudruppel op die tere halm mees welkom vir die vee. Dan, as die vierde uur[34] van die hemel hul dorstig gemaak het, en die klaende singbesies met hul lied die bos deurboor, (147) sal ek voorskryf dat die vee by putte of diep poele die water drink wat vloei in die eikehout-trogge. Maar in die middaghitte soek 'n skaduweeryke vallei uit, as êrens 'n massiewe eik van Juppiter, hoog bejaard, sy magtige takke uitstrek, of as êrens 'n woud, donker met menige ilexsboom, uitgestrek lê met heilige skaduwee. Gee dan vir hul dun stroompies water en voer hul weer teen sonsondergang, wanneer die koele aand die lug matig, en die dounat maanskyn reeds die veld verfris, en die strand weerklink met die lied van die halcuon-voël,[35] en die bosse met die gesing van die vink.

338-383. Skape in Afrika vergelyk met die van die Noorde. Die vreeslike winter van Scuthia.

Waarom sou ek jou verder vertel in my lied van herders van Afrika, van hul weivelde en die ver verspreide hutte wat hul bewoon? Dikwels, die hele dae en die hele nag en dwarsdeur die maand, wei die vee en trek die ver, verlate streke in, sonder 'n tuisplek: so uitgestrek is die vlakte. De veeherder van Afrika dra saam met hom al sy rykdom,[36] sy huis en sy huisgod, sy wapens en sy Spartaanse hond en sy Kretensiese pylkoker; net soos die dapper Romeinse soldaat met die wapens van sy vaderland, as hy marseer onder die wrede las,[37] en halt hou in sy kolom, en sy kamp opslaan voor die oë van die verraste vyand.

Maar anders is dit waar die rasse van Scuthia en die Maeotiese golf[38] hul bevind, en waar die troebele Donou sy geel sand warrel, en waar Rhodope omswaai (148) onder die middel van die hemel.[39] Daar hou hul die vee opgesluit in die stal, en g'n gras kom te voorskyn op die veld of loof op die bome nie; maar vormloos lê die aarde onder hope sneeu, rys met ys oral tot op sewe elle toe. Altyd is die winter daar, altyd noordwesters wat koue uitasem. Dan verja die son nooit die bleek skaduwees nie, nòg wanneer hy met sy perde die hoë hemel bestyg, nog wanneer hy met snelle daling sy renwa baai in die blosende vloer van die see.

Skielike yskorste groei aan op die lopende stroom, en die water dra reeds ysterbandige wiele op sy rug, die huis van skepe, nou van breë waens. Bronsvate bars gedurig, en klere ys vas op die liggaam, en vloeiende wyn word nou met byle gekap; hele poele word in soliede ys verander, en die puntige yskeël word hard op hul ongekamde baard. Intussen, onverminder, sneeu dit uit die hele lug: die vee sterf, die osse staan met massiewe liggame oordek met ryp, die wilde bokke, opeengedring, word versteen deur die vreemde sneeumassa, waaruit hul skaars die toppe van hul horings kan steek. Nie met jaghonde wat op hul losgelaat word, of met enige net, of die koord van rooi vere, [40] word hul, sidderend van vrees, gejag nie; maar terwyl hul tevergeefs met hul borste teen die sneeumassa stoot, word hul van naby met die staal neergehak en, diep bulkend, doodgemaak, en vrolik met luide geroep huis-toe gesleep. Die mense self, in spelonke diep onder die (149) aarde, woon rustig en kommervry, en rol na die vuurherd die opgehoopte eikehout en hele olme, en voed die vuur daarmee. Hier verleng hul die nag met spele, en vrolik boots hul die wynbekers na met suurdeeg en suur bessies.[41] Van so 'n aard is die wilde menseras wat woon onder die sewe sterre van die uiterste Noorde.[42] Op daardie ras, hul liggame geklee in bronskleurige dierevelle, slaan die Riphaeïese[43] stormwind neer.

384-403. Hoe om goeie wol en goeie melk te verkry.

As wol jou mikpunt is, dan, in die eerste plek, laat doringagtige bossies en stekerige onkruid afwesig wees; vermy 'n ryk weiland en kies van die begin af wit en saggevlieste kuddes. Maar wys van die hand die ram, hoe wit hy ook al is, as sy tong net swart, onder die klam gehemelte (anders is sy lammers se vliese donker met swart spikkels) en soek vir 'n ander in die volle veld. Met so 'n sneeuwit gawe van wol - as ons die oorlewering mag glo - het die god Pan u, o Maan, bedrieg en gevang en in die diep woud ingeroep; en sy geroep het u nie geminag nie. Maar hy wat sy hart op melk sit, laat hom self met eie hand cutisos en lotus en gesoute gras na die stal toe bring: as gevolg daarvan hou die kuddes ook meer van die rivier en swel hul uiers meer, en gee in die melk 'n ondersmakie van sout weer. Baie boere ook hou die nuutgebore bokkies weg van hul moeders en sit op die punt van hul yster-bekkies muilbande. Wat hul by (150) sonsopgang gemelk het en gedurende die dag, maak hul kaas van by nag; wat hul by sonsondergang en reeds in die donker gemelk het, dra hul uit in mandjies teen dagbreek en die herder gaan daarmee stad-toe, of hul besprinkel dit spaarsaam met sout en bêre dit vir die winter.

404-439. Die nut van honde. Hoe om van slange ontslae te raak.

En laat nie die sorg van jou honde die laaste plek inneem nie, maar voed saam op dik melk, wat vet maak, die kinders van die snelle Sparta en die vurige Molossiese[44] jaghond. Nooit, terwyl hul waghou, sal jy die nagdief in jou kraal vrees of die aanval van wolwe of die ongetemde Spaanse rower[45] agter jou nie. Dikwels ook sal jy snel die skrikkerige wilde esel jag, en die hasie met jou honde, dikwels met jou honde sal jy die hindes jag en dikwels met hul geblaf die wildevark verskrik verja, en wegdryf uit sy rolplek in die bos, en oor die hoë berge 'n groot bok met geroep na die nette toe inja.

Leer ook om welriekende sederhout in die stal te brand en met die ruik van galbanum[46] die giftige slange uit te dryf. Dikwels onder krippe, lank nie verskuiwe nie, skuil die slang, gevaarlik om aan te raak, en vlug verskrik van die daglig weg; of die slang, wat gewoon is om onder die skaduwee van die dak in te kruip, en (swaar plaag van die osse!) die vee met sy (151) gif te beskiet, hou sy huis in die grond warm. Neem klippe in jou hand, herder, neem 'n eikehout-kierie, en as hy dreigend oprys met sissende keel, vel hom neer. En nou het hy diep sy bange kop verberg en vlug weg, terwyl hy die middelste kringe en laaste kronkelinge van sy stert ontvou, en die laaste ring sy langsame sirkel ontplooi. Daar is ook daardie kwaadaardige slang in die bosveld van Calabria, skubbig, met kronkelende lyf en bors omhoog, sy lang maag gemerk met groot spikkels. Hy, terwyl daar riviere is wat uitbreek van hul bronne, en terwyl die aarde nat is in die lente met vog en die reënagtige suidewinde, woon in die damme en maak sy huis langs die oewers, en daar vul hy gretig sy swart maag met vis en praatsieke paddas; en nadat die moeras opgedroog is, en die aarde van mitte kraak, spring hy uit op droë land, en rol sy vlammende oë, en woed in die velde, wanhopig van dors en verskrik deur die hitte. Dan mag dit nie my plesier wees om soete slaap in die ope lug tel geniet, of om uitgestrek in die gras op 'n heuwel van die bos te lê nie, wanneer hy, splinternuut uit sy ou vel en blink van jeug, aangerol kom, terwyl hy sy kroos of sy eiers tuis nalaat, en, omhoog sonwaarts opgerys, flikker met drievoudige tong.

440-477. Siektes van skape, en hoe om hul te behandel.

Die oorsprong en oorsake van siektes ook sal ek jou leer. Lelike skurfte val die skape aan, wanneer die koue reën en growwe winter met sy wit ryp te diep in hul lewende vleis deurdring, of as die sweet onafgewas ná die skeer aan hul vassit, en stekerige dorings hul liggame skeur. Daarom was die veebase die hele kudde in vars lopende water af, en die ram word in die rivier gestort en met nat vlies stroom-af gestuur; of hul smeer die geskeerde lyf met bitter grondsop van olyfolie, en meng daarin skuim van silwer, natuurlike sulfer, pik van berg Ida, en was rykgemaak met salf, see-uie, nieskruid (152) en swart asfalt. Maar g'n middel help die siekte meer as wanneer 'n mens die swerende top met 'n mes kan afsny nie: die seer word gevoed en leef deur bedekking, terwyl die herder weier om genesende hande op die wond te lê, en die gode sit en vra vir 'n algehele verbetering van fortuin. Ja meer, wanneer die, pyn afgegly het en woed in die beendere van die blêrende skape, en die dorstige koors hul bene vreet, is dit van nut om die brandende hitte af te weer, en onder die hoef 'n aar, wat klop met bloed, te sny; soos die gewoonte is van die Masedoniërs of van die fiere Skuthiër, as hy vlug na Rhodope en die woestyne van die Getale, en sy suur melk met perdebloed drink. As jy op 'n afstand 'n skaap te dikwels die skaduwee sien opsoek, of die grastoppe te lusteloos sien vreet, en agter die kudde volg, of neerlê in die middel van die weiland en alleen weier om pad te gee voor die aand laat is, al dadelik moet jy die kwaad met jou mes stop, voor die vreeslike aansteeklikheid deur die onverskillige menigte sprei. Nie só swaar val die stormwind wat die reënvlaag dryf as die veelvuldige siektes van die vee nie. En hul gryp nie een vir een aan nie, maar hele somerweilande gelyk, die kudde en die hoop van die kudde, en die hele ras, wortel en tak; soos enigeen kan weet wat selfs nou, so lank na die voorval, by die lugklimmende Alpe en die heuwelforte van Noricum en die velde van gapudiese Timavus,[47] die verlate koninkryke van herders aanskou, en die weilande heinde en ver leeg gelaat.

478-514. Hoe die pestilensie een najaar hierdie dele, verwoes het. Tekens aan die plaag in perde.

Hier eenmaal het die lug verpes en 'n jammervolle (153) seisoen het aangebreek[48] en gegloei met al die hitte van die najaar, en die hele geslag van vee en wilde diere tot hul dood gebring, en die mere ontsuiwer, en die voer met verrottende besmetting vervul. En nie reguit was die pad van die dood nie; maar wanneer vurige dors, deur al die are gedryf, die arme lede ineen laat krimp het, was daar weer oorvloed van vloeistof wat al die beendere, trapsgewys deur die siekte verteer, insuig. Dikwels, terwyl die slagoffer in die middel van die diens van die gode by die altaar staan, en terwyl die wolband met sneeuwit lint om sy kop gesit word, val hy sterwend onder die trage bediendes. Of het die priester 'n os betyds met sy mes doodgemaak, dan brand die ingewande nie op die altaar nie, en die priester kan op die vraag g'n antwoord gee nie, en skaars word die mes wat onder die keel geplaas word, met bloed bevlek, en dun is die bloed wat die oppervlakte van die sand donker verf. Onder daardie plaag lê kalwers sterwende oral op die welige gras, en gee hul soete lewe af by die volle krip; in daardie tyd word die volgsame honde met waansin bevang, 'n asemlose gehoes skud die siek swyne en verwurg hul met geswelde keel. Onbekroon in sy werk, en sonder om ag te gee op die gras, sak die oorwinnaar-perd ineen; hy keer hom van die fonteine af, en trap die grond met aanhoudende hoef. Sy ore hang, en van hul drup sweet af, koue sweet, soos van die wat sterwende is; sy vel is droog en hard en weerstaan die hand wat dit aanraak. Dit is die tekens wat die dood in die eerste dae vooraf aantoon. Maar as die siekte voortgaan en begin feller woed, dan word hul oë vurig, hul haal diep asem, - asem wat gepaard (154) gaan, af en toe, met 'n sware sug; lang snikke rek die onderste deel van hul sye, swart bloed kom by hul neusgate uit; hul tong, aangeslaan, versper hul keel. Dit het gehelp om 'n horing in hul keel te druk, en die sap van die Wyngod af te giet; dit was blykbaar die enigste uitvlug van die dood. Maar binnekort was die middel self dodelik: hul herleef, maar in 'n waansinnige koors, en self (O, mag die gode 'n beter lot aan die regverdiges gee, en daardie dwaling aan ons vyande!) self, reeds in die kloue van hul wrede dood, het hul hul eie lede verskeur en vermink.

515-535. Die sterwende os.

En kyk! die stier, al stomende voor die harde ploeg, sak ineen, en bloed met skuim gemeng spuit by sy bek uit, en hy slaak sy laaste sug. Daar kom die bedroefde ploeër en maak die stier los wat treur oor sy broer se dood, en in die middel van sy werk laat hy die ploeg vas staan. Nie skaduwees van hoë bosse, nie sagte weilande, kan die gees nou aanroer nie, nie die stroom wat helderder as barnsteen oor die klippe rol en die plein gaan opsoek nie: nee, sy sye verslap van bo na onder, bewusteloosheid druk op sy dowwe oë, en sy nek sink neer op die grond asof onder 'n swaar gewig. Wat baat sy werk, sy dienste? Wat help dit hom dat hy die swaar aarde omgeploeg het? En tog was dit nie die Massiewe gawe van Bacchus[49] of feeste, dikwels herhaal, wat osse soos hy skade aangedoen het nie: blare en die voedsel van die eenvoudige gras vreet hul; hul bekers is helder fonteine en riviere met haastige stroom; hul gesonde slaap word nie deur kwelling onderbreek nie. Dan, soos nooit te vore nie, vertel hul, is osse gesoek in daardie streek vir Juno se offerandes, en waens is getrek deur ongelyke buffels na die hoë skatkamers van die godin. Om dié rede krap die boere moeg-moeg (155) met die hark in die aarde rond, en grawe die koring met hul eie naels in, en oor die hoë berge met spannende nek trek hul die krakende waens.

537-566. Die plaag woed steeds feller.

Nie meer soek die wolf 'n hinderlaag uit rondom die skaapkrale, nie meer bekruip hy die kuddes by nag nie; 'n skerper sorg maak hom mak. Die skaam bokkies en skrikkerige herte dwaal nou onder die honde rond, en om die huise. Nou, op die golflyn van die strand, spoel die branders die kroos van die onafgemete see en die hele ras van swemmende dinge soos skipbreukelinge op; die seeleeus neem 'n ongewone toevlug in die riviere; nou ook sterf die slang, vergeefs verdedig deur kronkelende skuilgat, en, met skubbe verstyf, staan die waterslang verbouereerd. Selfs teenoor die voëls is die lug wreed, en hul verlaat die lewe onder 'n hoë wolk en val blindelings neer. Verandering van spyse baat ook nie meer nie, en die kunste wat opgesoek word, doen net kwaad; weg is die geneeshere, Chiron, seun van Phillura en Amuthaoniese Melampus.[50] Van die Stugiese donkerheid uitgelaat in die lig, woed die bleek Tisiphone, [51] en ja voor haar uit Siekte en Vrees, en elke dag meer en meer rys sy op en dra (156) haar gretige hoof hoër. Van die geblêr en die aanhou- dende gebulk van vee, weerklink die riviere en die dorre oewers en die uitgestrekte heuwels. En nou by legioene vel sy haar slagoffers neer, en hoop selfs in die stalle die lyke, vrot met vuil besmetting, op, totdat mense leer om hul met aarde te bedek, en in putte te verberg. Want die velle kon nie gebruik word nie, nòg kon iemand hul met water vernietig of met vuur verbrand: selfs kon hul nie die vliese skeer nie, deurvreet met plaag en besmetting, nòg kon hul die verrottende weefsel aanraak. Nee, selfs al het iemand probeer om die gehate kleed aan te trek, brandende swere en vuilruikende sweet het oor sy lede gevloei, en nie lank daarna nie, het die vervloekte vuur sy besmette lede verteer. (157)

Voetnotas[edit]

  1. Pales, godin van herders en vee. Amphrusos rivier in Thessalia, N.O. Griekeland, waar Apollo die kuddes van koning Admetus moes oppas vir 'n tyd. Eurustheus koning van Mukenai in die Peloponnesus, 'n tiran onder wie Herakles een van sy twaalf Take moes verrig. Busiris, wrede koning van Egipte, wat alle vreemdelinge op sy altare geoffer het, totdat Herakles hom doodgemaak het.
  2. Hulas die skone jongeling wat saamgeseil het met die ekspediesie wat die Goue Vlies gaan kry het. Eendag toe hy gaan water haal, het die waternimfe op hom verlief geraak en hom afgesleep in die diepte. Delos is die eiland waarop Latona vir Artemis en Apollo die lig laat sien het.
  3. Aonia was in Boiotia waar Helikon die berg van die Muses was. Vergilius sê dat hy die Muses sal laat tuis voel in Italië, d.i. hy sal aan Italië 'n nasionale gedig gee, soos Homeros aan Griekeland gegee het. Hy sinspeel op die Aeneïs. En in die volgende verse stel hy hierdie idee onder verskillende figure voor. Die tempel wat hy gaan bou is die Aeneïs self; dat Caesar dit gaan bewoon, beteken dat dit ter ere van Augustus sal geskryf word; die spele wat by die rivier sal gehou word, is die viering van Augustus se triomfe - so ook die offerande, die teateropvoering, die versiering van die deure, die standbeelde. Maar voor hy dit doen, moet hy eers aan die bevele van Maecenas (en van sy eie gees) gehoor gee, en die Georgica klaar maak.
  4. Edom - dieselfde wat in die ou Testament genoem word. (Rigt. 1:16). Beroemd vir sy palme, simbool van oorwinning. Vergilius sê hy sal sy geboorte-plek Mantua beroemd maak, deur sy gedig.
  5. Mincius rivier by Vergilius se geboorteplek. (vgl. Milton, Lycidas, "smooth-sliding Mincius, crowned with vocal reeds.")
  6. d.i. ek sal in my gedig die spele, deur die Griekse digters beskrywe, ter ere van Augustus aanvoer. Alpheus rivier in Elis (Peloponnesus), waar die Olimpiese spele gevier is: Molorchus die woud van Nemea, waar Molorchus vir Herakles onthaal het, en waar die Nemeïese spele gehou is.
  7. Die digter dink aan die triomfmars na die Capitolium, waar die stiere ter ere van Juppiter geslag is.
  8. In 'n Romeinse teater het hul die gordyn van onderaf opgetrek by die end van die drama, en laat afsak by die begin. Die gedaantes van die geborduurde Britte versier die gordyn. Die verowering van die verre Britte was 'n simbool vir die Romeine van die uitgestrektheid van hul Ryk.
  9. Quirinus, Romulus, stigter, beskermer en tiepe van die Romein.
    Die volgende plekname slaan op die oorwinninge van Augustus in verskillende wêrelddele. Niphates, berg in Armenië, staan vir die Armeniërs self. Die Partiese ruiters het 'n manier gehad om voor te gee dat hul vlug en met die vlug skielik hul pyle na agter ter skiet met dodelike effek. Vgl. Eng. "Parthian shot."
  10. d.i. van Spanje en Sierië.
  11. Assaracus vroeë koning van Troje en dus legendariese voorouer van die Romeine.
  12. Apollo - op berg Cunthos in Delos gebore.
  13. d.i. Almal wat die nuwe Ryk met afgunstige oë beskou sal voorgestel word as misdadigers vir wie die strafoefeninge van Hades wag. As tiepes van die folteringe in die onderwêreld word opgenoem die Furieë wat met slange kasty, Cocutos die rivier van weeklagte, Ixion aan die wiel vasgebind, en Sisuphos wat die klip by die heuwel moet oprol en dit nooit kan regkry nie, want net as hy naby die top is, spring dit terug.
  14. Die plekke hier genoem, was beroemd vir hul weilande en hul jagpartye, en Vergilius stel die taak wat hy moet afmaak, as 'n jag voor, en verbeel hom dat die plekke hom roep tot die vervulling daarvan. Die 3e boek het dan ook met diere te doen.
  15. Tithonus man van Aurora, godin van die daeraad, was die seun van Laomedon, vroeë koning van Troje: dus 'n voorvader van die Romeine.
  16. Vgl. die beskrywing van die oorlogsperd, Job 39:19-25, vir treffende punte van ooreenkoms.
  17. Vergilius wil waardigheid aan sy onderwerp verleen deur die beroemde perde van die oudheid aan te haal. Castor en Pollux het te Amuclae in Laconia (in die Peloponnesus) gewoon, en die god Neptunus het vir hul perde Xanthus en Cullaros present gegee. Hul is die beskermgode van die Ridders in Rome gewees. Homeros beskrywe die spanne van Mars en van Achilles in die Ilias (XV 119 en XVI 148).
    Omtrent Saturnus was die storie dat hy, deur sy vrou Ops in 'n liefdesawontuur ontdek, homself in 'n perd verander en so ontvlug het.
  18. Erichthonius = Erechtheus, - vroeë koning van Atene. Hy is onder die sterre geplaas as Auriga - die renwadrywer.
    Mukenae en Epirus albei beroemd vir hul perde.
    Neptunus was die skepper van die perd (Georg I.13)
  19. Waarin perde geleer word.
  20. Vgl. Jesaja 32:2 "als de schaduw van eenen zwaren rotssteen in een dorstig land."
  21. Tanagrus, rivier in S. Italië.
  22. Io die dogter van Inachus is uit jaloesie deur Iuno in 'n kalf verander, en oor die wêreld gedryf deur 'n steek vlieg.
  23. Die Hyperboreï was 'n fabelagtige volk wat 'bokant die noordewind' (huper Borean) gewoon het.
  24. Nou S. Rusland.
  25. N.W. Peloponnesus waar die Olimpiese spele gehou is.
  26. Bos in S. Italië.
  27. Die beskrywing is vol patos: die dier word beskou as 'n mens wat in ballingskap gaan.
  28. Leander wat oor die Hellespontus geswem het om sy geliefde Hero te besoek, totdat hy een nag verdrink is. Vgl. Byron: Bride of Abydos.
  29. Glaucus het merries vir die wedren aangehou in Potniae (N.O. Griekland). Omdat hy hul nie wou laat aanteel nie, het Venus die merries rasend gemaak, sodat hul vir Glaucus verslind het.
  30. Castalia beroemde fontein van Apollo en die Muse op die Parnassusberg, in Phokis, oorkant die Korintiese golf.
  31. Stad in Klein-Asië: bekend vir sy pragtige skape.
  32. d.w.s. hoe minder sorg hul van jou vereis, hoe blymoediger moet jy dit gee.
  33. Lucifer of Phosphoros, die lig-aanbringer, ster van die daeraad.
  34. d.w.s., as ons aanneem dat die son om sesuur opkom, ongeveer tienuur; maar dit hang af van die jaargety.
  35. Halcuones. Vgl. Geor. I. 399.
  36. Byna die leuse van sommige Boerkommandes, "Omnia mea mecum porto" - al my besittinge dra ek saam met my.
  37. Die Romeinse soldaat moes 'n besonder swaar pak op die mars saamdra.
  38. Maeotis = die see van Asof.
  39. Die berg Rhodope in Thrake, N. Griekeland loop eers O., dan N., sodat dit lyk asof dit "omswaai." Die middel van die hemel is die noordpool van die buitenste sfeer van die Heelal, waarin die sterre vasgesit is. Hierdie beskrywing van die noordelike winter is beroemd.
  40. Die Romeine het 'n koord met rooi vere oor die bos gespan om die wild te verskrik en terug te ja in die nette wat vir hul gespan is.
  41. d.i. bier op hierdie manier gemaak.
  42. d.i. die sewe sterre (septentriones - die sewe ploegosse) wat die "Ploeg" (Charles' Wain") of die Groot Beer vorm. Dit is die tiepiese konstellasie van die noordelike halfrond en staan dikwels gelyk aan "die Noorde."
  43. Riphaei (montes) berge in N. Skuthia, nou S. Rusland. Vgl. Geor. I. 240.
  44. Molossies - uit Epirus, N.W. Griekeland, beroemd vir jaghonde.
  45. Spaanse rower: Spanje was een van die eerste provinsies wat die Romeine ingetrek het, en een van die laaste om behoorlik verower te word. Augustus het nog teen hul moes veg. - Hier word hul as tiepiese rowers beskou.
  46. Galbanum soort sterkruikende kruid.
  47. Die Iapudes het gewoon in die N. van Illuricum, aan die O. sy van die Adriatiese See. Timavus 'n rivier in Illuricum. Noricum, streek in die Alpe, N. Illuricum.
  48. Hier volg 'n bekende beskrywing van die plaag. Nog meer beroemd is die sketss van Thoukudides (11.48) en dié van Lucretius (VI 1138). Die beskrywing wat Boccaccio gee van die plaag in Italië, word ook dikwels aangehaal.
  49. Sien Geor. II. 143.
  50. Chiron, die Centaurus (half man, half perd) was die leermeester van Achilles, en beroemd vir sy kennis van die medisyne.
    Melampus, seun van Amuthaon, was die eerste praktiserende dokter.
    Hul staan hier as tiepes van hul agteruitgegane nakomelinge, die geneeshere, wat, in die tyd van die plaag, g'n hulp kon gee nie.
  51. Tisiphone: een van die Furieë; sy staan hier vir die gees van die plaag, soos die Engel in die Ou Testament wat sy hand uitstrek en die plaag laat ontstaan (2 Samuel 24:15).