Die Romeinse Boer/Cato

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die Legendes Die Romeinse Boer
II. Cato
deur T.J. Haarhoff
Romeinse landbou in die latere Republiek


II. Cato.

In die jaar 169 v. Kr. het daar as politieke gesant na Rome gekom 'n sekere Krates van Cilicia in Klein-Asië. Hy het die ongeluk gehad om in 'n rioolgat te val en sy been te breek. Sy ongeluk, was Rome se geluk. Terwyl sy been gesond word, het hy publieke voorlesinge oor die Griekse taal gegee. Daarmee het hy krag en rigting verskaf aan die reeds lang aangroeiende stroom van Griekse invloed wat byna 'n honderd jaar tevore begin het. Griekse kultuur het mode geword. Die intellektuele ontwikkeling van die Romein het begin. 'n Landelike volk is altyd konserwatief. Dit was nie te verwagte dat die ouer Romeine met die nuwe rigting tevrede sou wees nie: die omwenteling wat dit aanbring in sedes en gewoontes, was te groot. En onder die heftigste teenstanders van die instromende Griekse kultuur was Marcus Porcius Cato.

Opgebring op 'n boereplaas in Sabinum, het hy die praktiese sy van die boerdery deurgemaak, sowel as die strenge disipliene van sy tyd. Werksaamheid en spaarsaamheid, wat soms in vrekkerigheid ontaard; statigheid van karakter (gravitas), wat gepaard gaan met 'n liefde vir grappe, soms taamlik grof en ook van die soort wat "prakties" genoem word; 'n harde sedelikheid en strenge huislike deug; 'n landelike slimheid en versigtigheid; (25) 'n gehegtheid aan die voorvaderlike gode van die landbou; 'n wantroue teenoor vreemde gewoontes en intellektuele bewegings - al hierdie Romeinse karaktertrekke het Cato in hom opgeneem. Is hul ook nie veelal die kenmerke van ons eie boere nie - wat in 'n dergelike klimaat en grotendeels onder dieselfde ekonomiese omstandighede die probleme van landbou en lewe aanpak?

Die werk van Cato oor die landbou - de Agri cultura - is die oudste Latynse prosastuk wat ons besit, ofskoon in 'n gemoderniseerde vorm. Dit behoort nie tot die eerste letterkundige rang nie, maar die kernagtige taal waarin dit geskrywe is, vertel ons heelwat omtrent die omstandighede van die boer in daardie tyd. Dit is tipérend dat die huishoukuns nog nie van die boerdery afgeskei is nie: raad omtrent die maak van 'n dorsvloer en siekte onder die beeste word deurvleg met resepte vir koek en lekkernye. Die draad van die boek loop kronkelend soos 'n pampoenrank.

Cato begin met 'n vergelyking tussen die beroep van die handelaar, die geldlener (of kapitalis) en die boer. Hy besluit dat die handelaarslewe te waaghalserig is ('n mens het toe maar onder moeilike en gevaarlike omstandighede gereis; dit was erg genoeg as jy alleen was, maar as jy nog kosbare goed moes vervoer......!), terwyl die geldlener 'n skurk is. "Ons voorvaders was die opienie toegedaan en het dit in hul wette neergelê, dat 'n dief dubbel beboet moet word, 'n geldlener vierdubbel. Hieruit kan ons oordeel," merk Cato op, "hoeveel slegter burger die geldlener in hul opienie was as die dief! En as hul 'n man vir sy verdienstelikheid wou prys, dan sê hul, hy is 'n goeie boer, 'n goeie bewerker van die grond. Sulke lof was die hoogste, lof, het hul gemeen. Die handelaar, aan die ander kant, beskou ek, soos reeds gesê, as hardwerkend en ywerig in die aanwerf van goed, maar blootgestel aan gevaar en ramp. Dit is egter uit die boere wat die (26) sterkste manne en die hardvegtendste soldate gebore word. Hul beroep is die onskuldigste en die sekerste en veroorsaak die minste afguns, en hul beraam die minste kwaad."

Hy gaan nou oor om raad te gee vir die aankoop van 'n plaas, die pligte van die vader van die huis neer te lê, die pligte van die knegte en slawe, die saai van die lande, en so voorts.

By die aankoop moet jy nie gierig wees nie; jy moet kyk of die naburige plase voorspoedig is; of die klimaat en die grond goed is. "Indien moontlik, moet die plaas aan die voet van 'n heuwel wees, na die suide kyk, 'n gesonde ligging hê, volop werksmense en goeie water. Daar moet 'n groot stad naby wees of anders die see of 'n rivier waar skepe loop, of 'n goeie en veelgebruikte pad...... As jy by die plaashuis kom, kyk of daar baie parsvate en kuipe is: as daar nie baie is nie, weet dan dat die oes eweredig met die vate is." (Jy moet nie gierig wees nie, maar hier is nou darem 'n praktiese wenkie! ' 'n Goeie ligging is meer as veelheid van gereedskap. Weet dat dit met 'n land is soos met 'n mens: hoeveel profyt hy ook inbring, daar skiet nie baie oor as hy spandabel is nie"

Die boer moet baie versigtig wees, maar as hy handel, moet hy goed handel. ,,Hy moet lank dink voordat hy bou; saai moet hy nie oorstaan en dink nie - hy moet handel...... As hy bou, moet hy só bou dat die huis nie die plaas soek en die plaas ook nie die huis nie."

"Wanneer die vader die plaashuis bereik en sy huisgod gegroet het (huisgodsdiens gebou het, sou ons sê), moet hy nog op dieselfde dag, indien moontlik, die plaas inspekteer; so nie, dan op die volgende dag. As hy gesien het......watter werk gedaan en watter ongedaan is,......moet hy die voorman (vilicus) roep"......en die hele besigheid met hom bespreek. (27)

"As die weer reënagtig is, moet hy kyk[1] watter werk gedoen kan word gedurende die reën - vate was en met pik besmeer, die huis skoon maak, koring oordra, mis uitgooi, 'n mishoop maak, die saad suiwer, toue heelmaak of nuwes maak. Die slawe moet hul klere en hoede regmaak. Op heilige dae kan ou slote skoongemaak word, 'n publieke pad gemaak, doringbossies weggesny, die tuin gespit, die veld skoongemaak, latte saamgebind, doringagtige onkruid uitgeroei, koring gemaal en alles skoongemaak word. As slawe siek word, is dit nie nodig om hul soveel kos te gee nie......" (tiepies van Cato se spaarsaamheid, wat laat dink aan Witbooi se: "ek is nie suinig nie, baas, maar ek is vreeslik versigtig !") Verder sê hy kortaf : "As 'n slaaf oud word of as hy sieklik is, moet hy verkoop word !" Dit was eers later dat 'n Cicero sy slawe tot persoonlike vriende kon maak, en dat vrystelling van slawe op 'n groter skaal plaasgevind het as in Griekeland of in die Ooste.

Cato beklemtoon die belangrikheid van noukeurig boek te hou - 'n aparte rekening vir al die verskillende produkte. Die baas moet skriftelik opteken al sy verskillende bevele. Hy moet sy tyd afwag en verkoop as dinge op prys is. "Die vader van die huis moet gretig wees om te verkoop, nie om te koop nie."

Ploutarchos vertel dat toe Cato ná die oorlog in Spanje na Rome toe moes terugvaar, hy sy getroue ou perd wat hom deur die hele veldtog gedra het, verkoop het - om sy vraggeld te bespaar! Hy vertel ook hoe Cato sy slawe persoonlik gekasty het - iets by ons ook nie onbekend nie.

Die baas, die paterfamilias, moet nie langdurig van die plaas weg wees nie; want in sy teenwoordigheid sal die boerdery meer floreer, minder foute sal gemaak word, jy sal meer profyt maak. Die gesig van die (28) baas is beter vir die plaas as sy rug - 'n gesegde wat Plinius driehonderd jaar later herhaal.[2] Meer as een, in die dae toe dit mode geword het om die plaas aan die vilicus oor te laat, het die waarheid van die spreuk gevoelig ondervind.

(§ 5) "Die pligte van die voorman sal die volgende wees hy moet goeie orde hou; hy moet die heilige dae onderhou; hy moet van 'n ander se goed sy hand afhou, sy eie vlytig bewaar. In twis-sake moet die lede van die huisgesin skeidsregters wees: as iemand oortree het, moet hul hom op die regte manier, volgens die kwaad wat hy gedoen het, straf . Hy moet toesien dat dit goed gaan met die slawe, dat hul nie pyn of honger ly nie... Hy moet nie 'n rondloper wees nie, altyd sober wees en nooit êrens gaan uit eet nie...... Hy moet nie dink dat hy wyser is as sy baas nie. Sy baas se vriende moet ook syne wees. Hy moet gehoor gee aan die wat oor hom gestel is. Hy moet nie offerande opoffer nie, behalwe op 'n kruisweg by viering van die Compitalia[3] of op vuurherd. Sonder bevel van sy baas moet hy niks aan iemand toevertrou nie; wat sy baas aan iemand geleen het, moet hy terugverg. Saai-saad, kos, graan, wyn, olie moet hy aan niemand leen nie...... Hy moet nie 'n aanhanger, 'n parasiet hê nie. Hy moet nooit wens om 'n waarsêer van enige aard[4] of 'n oosterse (29) astroloog[5] te raad pleeg nie...... Hy moet die eerste wees om op te staan, die laaste om te gaan slaap. Voor hy na bed gaan, moet hy sien dat die huis toegemaak is en dat elkeen in sy eie plek slaap en dat die vee voer het.

Aan beeste moet hy die grootste sorg bestee...... Hy moet toesien dat beddegoed sorgvuldig onder die osse en die ander vee gestrooi word: hy moet toesien dat hul hoewe versorg word" (perde het nog nie skoene gedra nie).

"Jy moet al jou werk vroegtydig klaar kry. Want boerdery is van so 'n aard, dat as jy een ding te laat doen, sal alles te laat wees."

En so, in sy bondige stakkato-styl, raak die oue Cato aan 'n mag van onderwerpe. Vye-, wilger-, olyfbome; die pars van olywe en druiwe; die bou van die plaashuis, die optrek van heinings, die maak van 'n olyfpers, van kuipe, van koek...... selfs die klere van die slawe en hoe om die mot uit hul uit te hou......oor alles het hy 'n opmerking.

(§23) In verband met die maak van wyn sê hy , "As dit nodig is, gooi dan by die mos moskonfyt (defrutum) gekook van mos met loog gemeng; gooi by 'n veertigste deel van moskonfyt of 'n pond en 'n half sout in die wynsak. As jy fyngemaakte marmer gebruik, gooi dan 'n pond daarvan by en meng dit in 'n erde-vat met mos; gooi dan die mengsel in die wynvat. As jy boomgom (rēsīna) insit......maak dti goed fyn, plaas dit in 'n klein mandjie en laat dit in 'n vat mos hang: skud dit gedurige, (30) sodat dit kan begin, smelt. As jy jou moskonfyt, of fyn marmer, of boomgom ingesit het, meng dit goed en dikwels, gedurende twintig dae, en druk dit elke dag saam......" En dan vertel hy hoe om "Griekse" wyn" te maak deur sout of seewater by te gooi.

Dat die Romeine moskonfyt gemaak het, is iets wat baie geleerdes van naam nie besef nie. Maar dit is tog so. Plinius Senior sê duidelik dat hul die mos gekook het tot op 'n helfte of tot op 'n derde van die oorspronklike kwantiteit: in die eerste geval het hul dit defrutum genoem, in die twede, sapa. Ovidius beskrywe hoe, by offerandes, melk en sapa as 'n drank gemeng word en Vergilius skilder die afskuim van die mos as dit gekook word, deur die besige Romeinse huisvrou: iets wat vir Afrikaners uit die Westelike Provinsie 'n bekende gesig is. Plinius vertel ons (en dit is Cato se bedoeling ook) dat moskonfyt gebruik is om wyne soet te maak: 'n gebruik wat nou nog bestaan.[6]

(§71) Die geneeskuns is nog verbonde aan toorformules en bygelofies. As 'n os siek is, moet hy 'n eier rou insluk, en die volgende dag 'n fyngemaakte ui (ulpicum) in 'n halwe pint wyn. Die man wat dit gee, moet die ui staande fynmaak en dit in 'n hout-bak gee: hy en die os moet albei regop staan, en albei moet hul deel op 'n nugter maag doen. Ieiunus ieiuno, bovi dato. Anders (so moet ons veronderstel) verloor die medisyne sy geneeskrag.

En weer: "As 'n lit verswik is, sal dit deur hierdie toorformule gesond word. Neem 'n groen riet, vier of vyf voet lank, splits dit in die middel en laat twee mans die punte teen hul heupe hou. Begin dan sing-sing te resiteer: ,,MOTAS VAETA DARIES DARDARES ASTATARIES DISSUNAPITER, totdat die punte bymekaar kom. Gooi 'n mes daarop. As die dele bymekaar gekom en ontmoet (31) het, neem die mes in jou hand en sny met jou regterhand die riet voor af aan die linkerkant, maak die stuk vas op die verswikking of breuk en dit sal gesond word. En daagliks moet jy sê: HUAT HAUAT HUAT ISTA PISTA SISTA...... "

Tot ver in die Middeleeue het die geneeskunde hand aan hand geloop met magiese formules. En op die land is die lewe van 'n bygeloof langer as in die skeptiese atmosfeer van 'n stad.

Die vrou het onder die Romeine veel hoër gestaan as by die Grieke van die tye ná Homeros. Dit lyk byna of die indringers van die noorde af in hierdie opsig 'n kontras gevorm het met die suidelike en oostelike volke - ofskoon die opgrawinge in Kreta heelwat vrouevryheid aantoon onder die Suidelike bewoners van Knossos 4,000 jaar gelede. Dit is egter oor die algemeen waar dat die noordelike element in die Romeine en in die Achaioi van Homeros se tyd die oorsaak was van die hoër status wat die vrou in daardie tye geniet het; want in die later tye van Griekeland het suidelike en soms Oosterse invloed 'n groter rol gespeel. Nogtans kan ons die vroeë Romeinse sienswyse omtrent die vrou (al was sy 'n vrygemaakte slaaf) nie eintlik "libe- raal" noem nie. Hier laat Cato hom uit oor die posiesie en pligte van die vroulike opsiener van die plaas (vilica):

(§143) "Die voorman moet toesien dat die vilica haar pligte verrig. As die baas haar vir jou (die voorman) tot vrou gee, wees tevrede met haar. Maak dat sy vir jou bang is. Sien toe dat sy nie te weelderig is nie. Laat haar so min moontlik omgaan met buur- en ander vrouens (dit klink meer soos die Griekse opsluitidee as die tiepies Romeinse houding). Sy moet nêrens gaan uit eet nie: sy moet nie 'n rondloper wees nie. Offerande moet sy nie opoffer nie en ook nie deur 'n ander laat opoffer sonder die bevel van die huisbaas of huisvrou nie. Sy moet weet dat die baas vir die hele huisgesin offerande opoffer." "Sy moet (32) netjies wees op haar persoon: die huis moet sy omkeer en skoon hou...... Op die eerste, die dertiende, die vyfde van die maand, wanneer dit 'n feesdag is, moet sy 'n kransie op die vuurherd plaas, en gedurende daardie dae moet sy die huisgod volgens haar mate van voorspoed vereer. Sy moet sorg vir die kook van kos vir jou en die huisgesin (familia sluit die slawe in). Sy moet baie henne aanhou en eiers verskaf. Gedroogde pere, bessies, vye, rosyntjies, ...appels... vars neute van Praeneste moet sy begrawe hou in 'n erde-vat in die grond. Sy moet goeie meel kan maal en fyn brood kan maak."

Om die plaas van peste vry te hou (lustrare) moet die boer die suovetaurilia (offerande van 'n vark, 'n bul en 'n kalf) om die grense vier. Onder die gebede is die volgende: (§ l4l)

"Mars,[7] Vader, U bid en smeek ek dat U uit u goedertierenheid vir my, my huis en ons huishouding mag seën; want hierom het ek beveel dat hierdie offerande om my veld, my grond, my plaas gelei moet word, dat U die siektes, gesien en ongesien, gebrek en vernieling, onweer en ramp, van ons mag afweer, afkeer, afwend; en dat U mag toelaat dat graan, vrug en plant groot word en goed uitval; en veilig herders en kuddes bewaar, en in gesondheid my, my huis en ons huishouding bewaar. Om dié rede, vir die reiniging van my plaas, my land, my veld, en om suiwering te weeg te bring, laat o Vader, die offerande van hierdie vark, kalf en skaap, wat nog aan die moeder drink, tot u heerlikheid dien." (33)

Só, met palme omhoog gehou, het die ou Romein hande van verlange uitgestrek na die Onbekende God, en só sy menslike nood gekla. En oor die meer as tweeduisend jaar wat verloop het, raak die woorde nog altemit 'n snaar in ons aan...... (34)

Voetnotas[edit]

  1. lees videto.
  2. Frons occipitio prior est - let. die gesig kom voor die agterste van die kop. Vgl Plin. xi. 29 frontemque domini plus prodesse quam occipitium.
  3. Fees jaarliks by 'n kruisweg (compitium) gevier ter ere van die Huisgode, Lares.
  4. Haruspex, augur, hariolus - verskillende name vir waarsêers. Die haruspex en die horiolus het die toekoms voorspel deur die ingewande, van diere te ondersoek: augur oorsponklik iemand wat profeteer deur die vlug van voëls gade te slaan.
  5. Chaldae of Mathematici wat berekeninge, afgelei van die posiesie van die sterre, maak, om toekomstige dinge te voorspel. Die naam Chaldaei het hul daaraan te danke dat de Galdeërs in Assierië en Babilon (van wie ons in die Ou Testament lees) beroemd was van die vroegste tye af vir hul kennis van astronomie en astrologie.
  6. Vgl. Prof. Perold, Annale van die Uniwersiteit van Stellenbosch, Eerste Reeks.
  7. Mars was oorspronklik 'n god van die landbou en het eers later 'n oorlogsgod geword. Let op die wettiese herhaling van woorde: vroeg reeds kom die aanleg van die Romeine vir die wet uit - hul vernaamste bydrae tot ons kultuur.