Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997/Hoofstuk vier

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
please do not remove empty parameters (see the template documentation).
Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997 by Regering van Suid-Afrika

Hoofstuk vier: Besonderhede van diens en besoldiging

HOOFSTUK VIER
BESONDERHEDE VAN DIENS EN BESOLDIGING (aa 28-35)

 

28 Toepassing van hierdie Hoofstuk

 

(1) Hierdie Hoofstuk is nie van toepassing nie op 'n werknemer wat minder as 24 uur per maand vir 'n werkgewer werk.

 

(2) Artikels 29 (1) (n), (o) en (p), 30, 31 en 33 is nie van toepassing nie op-

 

(a) 'n werkgewer wat minder as vyf werknemers in diens het; en

 

(b) ......

 

[Par. (b) geskrap by a. 5 van Wet 11 van 2002.]

 

29 Skriftelike besonderhede van diens

 

(1) 'n Werkgewer moet, wanneer 'n werknemer met diens begin, die werknemer skriftelik van die volgende besonderhede voorsien:

 

(a) Die volle naam en adres van die werkgewer;

 

(b) die naam en beroep van die werknemer, of 'n bondige beskrywing van die werk waarvoor die werknemer in diens is;

 

(c) die werkplek, en waar daar van die werknemer vereis word of hy of sy toegelaat word om op verskillende plekke te werk, 'n aanduiding daarvan;

 

(d) die datum waarop die diens begin het;

 

(e) die werknemer se gewone werkure en werkdae;

 

(f) die werknemer se loon of die skaal en metode van berekening van lone;

 

(g) die skaal van betaling vir oortydwerk;

 

(h) enige ander kontantbetalings waarop die werknemer geregtig is;

 

(i) enige betaling in goedere waarop die werknemer geregtig is en die waarde van die betaling in goedere;

 

(j) hoe dikwels besoldiging betaal sal word;

 

(k) enige aftrekkings wat van die werknemer se besoldiging gedoen moet word;

 

(l) die verlof waarop die werknemer geregtig is;

 

(m) die tydperk kennis wat nodig is om diens te beëindig, of indien diens vir 'n bepaalde tydperk is, die datum waarop diens sal eindig;

 

(n) 'n beskrywing van enige raad of sektorale vasstelling wat die werkgewer se besigheid dek;

 

(o) enige tydperk van diens by 'n vorige werkgewer wat by die werknemer se dienstyd ingereken moet word;

 

(p) 'n lys van enige ander dokumente wat deel uitmaak van die dienskontrak, met 'n aanduiding van 'n plek wat redelik toeganklik is vir die werknemer waar 'n afskrif van elk verkry kan word.

 

(2) Wanneer enige aangeleentheid in subartikel (1) gelys, verander-

 

(a) moet die skriftelike besonderhede hersien word om die verandering te weerspieël; en

 

(b) moet die werknemer voorsien word van 'n afskrif van die dokument wat die verandering weerspieël.

 

(3) Indien 'n werknemer nie die skriftelike besonderhede kan verstaan nie, moet die werkgewer seker maak dat dit aan die werknemer verduidelik word in 'n taal en op 'n wyse wat die werknemer verstaan.

 

(4) Skriftelike besonderhede ingevolge hierdie artikel moet deur die werkgewer gehou word vir 'n tydperk van drie jaar na die beëindiging van diens.

 

30 Verwittiging van werknemers van hulle regte

 

'n Werkgewer moet 'n staat in die voorgeskrewe vorm van die werknemer se regte kragtens hierdie Wet in die amptelike tale wat in die werkplek gepraat word, by die werkplek vertoon waar dit deur werknemers gelees kan word.

 

31 Hou van rekords

 

(1) Elke werkgewer moet 'n rekord aanhou wat minstens die volgende inligting bevat:

 

(a) Die werknemer se naam en beroep;

 

(b) die tyd wat deur elke werknemer gewerk is;

 

(c) die besoldiging wat aan elke werknemer betaal is;

 

(d) die geboortedatum van enige werknemer wat onder die ouderdom van 18 jaar is; en

 

(e) enige ander voorgeskrewe inligting.

 

(2) 'n Rekord ingevolge subartikel (1) moet deur die werkgewer gehou word vir 'n tydperk van drie jaar na die datum van die laaste inskrywing in die rekord.

 

(3) Niemand mag 'n valse inskrywing in 'n rekord wat ingevolge subartikel (1) gehou word, maak nie.

 

(4) 'n Werkgewer wat 'n rekord ingevolge hierdie artikel hou, word nie verplig om enige ander rekord ten opsigte van tyd wat gewerk is en besoldiging wat betaal is wat deur 'n ander dienswet vereis word, te hou nie.

 

32 Betaling van besoldiging

 

(1) 'n Werkgewer moet aan elke werknemer enige besoldiging wat in geld betaal word-

 

(a) in Suid-Afrikaanse betaalmiddel betaal;

 

(b) daagliks, weekliks, tweeweekliks of maandeliks betaal; en

 

(c) in kontant, per tjek of deur regstreekse deponering in 'n rekening deur die werknemer aangewys, betaal.

 

(2) Enige besoldiging wat in kontant of per tjek betaal word, moet aan elke werknemer gegee word-

 

(a) by die werkplek of op 'n plek waartoe die werknemer ingestem het;

 

(b) gedurende die werknemer se werkure of binne 15 minute voor of na die begin of afsluiting van daardie ure; en

 

(c) in 'n verseëlde koevert wat die eiendom van die werknemer word.

 

(3) 'n Werkgewer moet besoldiging betaal binne sewe dae na-

 

(a) die voltooiing van die tydperk waarvoor die besoldiging betaalbaar is; of

 

(b) die beëindiging van die dienskontrak.

 

(4) Subartikel (3) (b) is nie van toepassing nie op enige betaling van 'n pensioen- of voorsorgfonds aan 'n werknemer wat ingevolge die reëls van die fonds gedoen word.

 

33 Inligting oor besoldiging

 

(1) 'n Werkgewer moet aan 'n werknemer die volgende inligting skriftelik verstrek op elke dag wanneer die werknemer betaal word:

 

(a) Die werkgewer se naam en adres;

 

(b) die werknemer se naam en beroep;

 

(c) die tydperk waarvoor die betaling gedoen word;

 

(d) die werknemer se besoldiging in geld;

 

(e) die bedrag en doel van enige aftrekking wat van die besoldiging gedoen is;

 

(f) die werklike bedrag wat aan die werknemer betaal is; en

 

(g) indien tersaaklik vir die berekening van daardie werknemer se besoldiging-

 

(i) die werknemer se besoldigingskoers en oortydskaal;

 

(ii) die getal gewone en oortydure gewerk deur die werknemer gedurende die tydperk waarvoor die betaling gedoen word;

 

(iii) die getal ure deur die werknemer op 'n Sondag of openbare vakansiedag gewerk gedurende daardie tydperk; en

 

(iv) indien 'n ooreenkoms om gemiddelde werktyd te bereken ingevolge artikel 12 aangegaan is, die totale getal gewone en oortydure gewerk deur die werknemer gedurende die tydperk van berekening van gemiddelde werktyd.

 

(2) Die skriftelike inligting wat ingevolge subartikel (1) vereis word, moet aan elke werknemer gegee word-

 

(a) by die werkplek of op 'n plek waartoe die werknemer ingestem het; en

 

(b) gedurende die werknemer se gewone werkure of binne 15 minute na die begin of afsluiting van daardie ure.

 

34 Aftrekkings en ander handelinge betreffende besoldiging

 

(1) 'n Werkgewer mag geen aftrekking van 'n werknemer se besoldiging doen nie tensy-

 

(a) die werknemer, behoudens subartikel (2), skriftelik instem tot die aftrekking ten opsigte van 'n skuld in die ooreenkoms vermeld; of

 

(b) die aftrekking ingevolge 'n wet, kollektiewe ooreenkoms, hofbevel of arbitrasietoekenning vereis of toegelaat word.

 

(2) 'n Aftrekking ingevolge subartikel (1) (a) kan gedoen word ten einde 'n werkgewer vir verlies of skade te vergoed slegs indien-

 

(a) die verlies of skade in die loop van diens voorgekom het en aan die skuld van die werknemer te wyte was;

 

(b) die werkgewer 'n billike prosedure gevolg het en die werknemer 'n redelike geleentheid gebied het om aan te toon waarom die aftrekkings nie gemaak moet word nie;

 

(c) die totale bedrag van die skuld nie die werklike bedrag van die verlies of skade te bowe gaan nie; en

 

(d) die totale aftrekkings van die werknemer se besoldiging ingevolge hierdie subartikel nie een kwart van die werknemer se besoldiging in geld te bowe gaan nie.

 

(3) 'n Aftrekking ingevolge subartikel (1) (a) ten opsigte van enige goedere wat deur die werknemer gekoop is, moet die aard en hoeveelheid van die goedere spesifiseer.

 

(4) 'n Werkgewer wat 'n bedrag vir betaling aan 'n ander persoon aftrek van 'n werknemer se besoldiging ingevolge subartikel (1), moet die bedrag aan die persoon betaal in ooreenstemming met die tydperk en ander vereistes in die ooreenkoms, wet, hofbevel of arbitrasietoekenning vermeld.

 

(5) 'n Werkgewer mag nie van 'n werknemer vereis of hom of haar toelaat om-

 

(a) enige besoldiging terug te betaal nie behalwe vir oorbetalings wat vroeër deur die werkgewer gemaak is as gevolg van 'n fout in die berekening van die werknemer se besoldiging; of

 

(b) ontvangs te erken van 'n bedrag wat groter is as die besoldiging wat werklik ontvang is nie.

 

34A Betaling van bydraes aan voordeelfondse <a href="#_edn10" name="_ednref10" title="">[x]</a>*

 

(1) By die toepassing van hierdie artikel is 'n voordeelfonds 'n pensioen-, voorsorg-, aftree-, mediese bystands- of soortgelyke fonds.

 

(2) 'n Werkgewer wat enige bedrag van 'n werknemer se besoldiging aftrek vir betaling aan 'n voordeelfonds, moet die bedrag aan die fonds betaal binne sewe dae nadat die aftrekking gedoen is.

 

(3) Enige bydrae wat 'n werkgewer namens 'n werknemer aan 'n voordeelfonds moet betaal wat nie van die werknemer se besoldiging afgetrek word nie, moet aan die fonds betaal word binne sewe dae na die einde van die tydperk ten opsigte waarvan die betaling gedoen word.

 

(4) Hierdie artikel raak geen verpligting van 'n werkgewer ingevolge die reëls van 'n voordeelfonds om enige betaling binne 'n korter tydperk as dié wat by subartikel (2) of (3) vereis word, te doen nie.

 

[A. 34A ingevoeg by a. 6 van Wet 11 van 2002.]

 

35 Berekening van besoldiging en lone

 

(1) 'n Werknemer se loon word bereken met verwysing na die getal ure wat die werknemer gewoonlik werk.

 

(2) Vir die doeleindes van die berekening van 'n werknemer se loon met verwysing na tyd, word 'n werknemer geag gewoonlik vir-

 

(a) 45 uur in 'n week te werk, tensy die werknemer gewoonlik 'n kleiner getal ure in 'n week werk;

 

(b) nege uur in 'n dag te werk, of sewe en 'n half uur in die geval van 'n werknemer wat op meer as vyf dae in 'n week werk, of die getal ure wat 'n werknemer in 'n dag ingevolge 'n ooreenkoms aangegaan ooreenkomstig artikel 11 werk, tensy die werknemer gewoonlik 'n kleiner getal ure in 'n dag werk.

 

(3) 'n Werknemer se maandelikse besoldiging of loon is vier en een derde maal die werknemer se weeklikse besoldiging of loon onderskeidelik.

 

(4) Indien 'n werknemer se besoldiging of loon, hetsy in die geheel of ten dele, op 'n ander grondslag as tyd bereken word of indien 'n werknemer se besoldiging of loon van tydperk tot tydperk beduidend skommel, moet enige betaling ingevolge hierdie Wet aan daardie werknemer bereken word met verwysing na die werknemer se besoldiging of loon-

 

(a) gedurende die voorafgaande 13 weke; of

 

(b) indien die werknemer vir 'n korter tydperk in diens was, gedurende daardie tydperk.

 

(5) (a) Die Minister kan, na oorleg met die Kommissie en NEOAR, by kennisgewing in die Staatskoerant bepaal of 'n bepaalde kategorie betaling, hetsy in geld of in natura, deel uitmaak van werknemers se besoldiging vir die doel van enige berekening ingevolge hierdie Wet gedoen.

 

(b) Sonder om die Minister se bevoegdhede ingevolge paragraaf (a) te beperk, kan die Minister-

 

(i) die waarde, of 'n formule vir die bepaling van die waarde, bepaal van enige betaling wat deel van besoldiging uitmaak;

 

(ii) 'n maksimum of minimum waarde heg aan enige betaling wat deel van besoldiging uitmaak; en

 

(iii) vir die doel van enige berekening, differensieer tussen verskillende kategorieë betaling en verskillende sektore.

 

(c) Alvorens die Minister 'n kennisgewing ingevolge paragraaf (a) uitreik, moet die Minister-

 

(i) 'n konsep van die voorgestelde kennisgewing in die Staatskoerant publiseer; en

 

(ii) belanghebbende partye uitnooi om binne 'n redelike tydperk skriftelike vertoë oor die konsepkennisgewing voor te lê.

 

[Sub-a. (5) vervang by a. 7 van Wet 11 van 2002.]