Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997/Hoofstuk sewe

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
please do not remove empty parameters (see the template documentation).
Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997 by Regering van Suid-Afrika

Hoofstuk sewe: Wysiging van basiese diensvoorwaardes

HOOFSTUK SEWE
WYSIGING VAN BASIESE DIENSVOORWAARDES (aa 49-50)

 

49 Wysiging deur ooreenkoms

 

(1) 'n Kollektiewe ooreenkoms wat in 'n bedingingsraad aangegaan is, kan enige basiese diensvoorwaarde verander, vervang of uitsluit indien die kollektiewe ooreenkoms versoenbaar is met die doel van hierdie Wet en die kollektiewe ooreenkoms nie-

 

(a) die beskerming verleen aan werknemers deur artikels 7, 9 en enige regulasie ingevolge artikel 13 uitgevaardig, verminder nie;

 

(b) die beskerming verleen aan werknemers wat nagwerk ingevolge artikel 17 (3) en (4) verrig, verminder nie;

 

(c) 'n werknemer se jaarlikse verlof ingevolge artikel 20 na minder as twee weke verminder nie;

 

(d) 'n werknemer se geregtigdheid op kraamverlof ingevolge artikel 25 verminder nie;

 

(e) 'n werknemer se geregtigdheid op siekteverlof ingevolge artikels 22 tot 24 verminder nie;

 

(f) met die bepalings van Hoofstuk Ses bots nie.

 

(2) 'n Kollektiewe ooreenkoms, behalwe 'n ooreenkoms beoog in subartikel (1), kan 'n basiese diensvoorwaarde vervang of uitsluit in soverre dit by hierdie Wet of 'n sektorale vasstelling toegelaat word.

 

(3) 'n Werkgewer en 'n werknemer kan ooreenkom om 'n basiese diensvoorwaarde te vervang of uit te sluit in soverre dit deur hierdie Wet of 'n sektorale vasstelling toegelaat word.

 

(4) Geen bepaling in hierdie Wet of 'n sektorale vasstelling mag uitgelê word nie as sou dit-

 

(a) 'n dienskontrak of ooreenkoms tussen 'n werkgewer en 'n werknemer wat strydig is met die bepalings van 'n kollektiewe ooreenkoms toelaat;

 

(b) 'n kollektiewe ooreenkoms wat strydig is met die bepalings van 'n kollektiewe ooreenkoms in 'n bedingingsraad aangegaan, toelaat.

 

50 Wysiging deur Minister

 

(1) Die Minister kan, indien dit in ooreenstemming is met die doel van hierdie Wet, 'n vasstelling doen ter verandering of uitsluiting van 'n basiese diensvoorwaarde waarvoor daar in hierdie Wet voorsiening gemaak word, ten opsigte van-

 

(a) 'n kategorie werknemers of kategorie werkgewers; of

 

(b) 'n werkgewer of werknemer ten opsigte van wie 'n aansoek gedoen is deur-

 

(i) die werkgewer;

 

(ii) die geregistreerde werkgewersorganisasie;

 

(iii) die werkgewer en die geregistreerde werkgewersorganisasie.

 

(2) 'n Vasstelling ingevolge subartikel (1)-

 

(a) mag nie met betrekking tot artikels 7, 17 (3) en (4), 25, 43 (2), 44 of 48 of 'n regulasie uitgevaardig ingevolge artikel 13 gedoen word nie; en

 

(b) mag ten opsigte van artikel 43 (1) gedoen word slegs om die indiensneming van kinders by die verrigting van adverterings-, sport-, artistiese of kulturele aktiwiteite toe te laat.

 

[Sub-a. (2) vervang by a. 10 (a) van Wet 11 van 2002.]

 

(2A) 'n Vasstelling ingevolge subartikel (1) kan ten opsigte van artikel 9 gedoen word slegs-

 

(a) indien die werknemers se gewone werkure, rustydperke en jaarlikse verlof in die geheel gunstiger vir die werknemers is as die basiese diensvoorwaardes ingevolge artikels 9, 10, 14, 15 en 20; en

 

(b) indien-

 

(i) oor die vasstelling ooreengekom is in 'n kollektiewe ooreenkoms;

 

(ii) die vasstelling genoodsaak word deur die bedryfsomstandighede van die sektor ten opsigte waarvan die verandering verlang word en die meerderheid werknemers in die sektor nie lede van 'n geregistreerde vakbond is nie; of

 

(iii) die vasstelling op die landbousektor of die private sekuriteitsektor van toepassing is.

 

[Sub-a. (2A) ingevoeg by a. 10 (b) van Wet 11 van 2002.]

 

(3) 'n Vasstelling ingevolge subartikel (1) (a) moet-

 

(a) op advies van die Kommissie gedoen word; en

 

(b) by kennisgewing in die Staatskoerant uitgereik word.

 

(4) Die Minister kan die Kommissie versoek-

 

(a) om advies te gee oor 'n aansoek ingevolge subartikel (1) (b) gedoen;

 

(b) om riglyne op te stel vir die oorweging van aansoeke ingevolge subartikel (1) (b) gedoen.

 

(5) 'n Vasstelling ingevolge subartikel (1) (b) wat op die staatsdiens van toepassing is, moet deur die Minister, met die instemming van die Minister vir die Staatsdiens en Administrasie, gedoen word.

 

(6) Indien 'n vasstelling ingevolge subartikel (1) die indiensneming van kinders raak, moet die Minister met die Minister vir Welsyn en Bevolkingsontwikkeling oorleg pleeg voordat die vasstelling gedoen word.

 

(7) (a) 'n Vasstelling ingevolge subartikel (1) (b) kan uitgereik word indien die aansoek die toestemming het van elke geregistreerde vakbond wat die werknemers verteenwoordig ten opsigte van wie die vasstelling van toepassing sal wees.

 

(b) Indien geen toestemming beoog in paragraaf (a) verkry is nie, kan 'n vasstelling ingevolge subartikel (1) (b) uitgereik word indien-

 

(i) die werkgewer of werkgewersorganisasie 'n afskrif van die aansoek, tesame met 'n kennisgewing dat vertoë tot die Minister gerig mag word, beteken het aan 'n geregistreerde vakbond wat werknemers wat deur die aansoek geraak word, verteenwoordig; en

 

(ii) in die geval waar die meerderheid van die werknemers nie deur 'n geregistreerde vakbond verteenwoordig word nie, die werkgewer of werkgewersorganisasie redelike stappe gedoen het om die aansoek en die feit dat vertoë tot die Minister gerig mag word, onder die aandag van daardie werknemers gebring het.

 

(8) 'n Vasstelling ingevolge subartikel (1) (b) gedoen-

 

(a) mag op enige voorwaardes en vir 'n tydperk wat die Minister bepaal, uitgereik word;

 

(b) kan in werking tree op 'n datum vroeër as die datum waarop die vasstelling gegee is, maar nie vroeër nie as die datum waarop die aansoek gedoen is;

 

(c) moet uitgereik word in 'n kennisgewing in die voorgeskrewe vorm indien die vasstelling gedoen is ten opsigte van 'n aansoek wat deur 'n werkgewer gedoen is;

 

(d) moet by kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer word indien die vasstelling gedoen is ten opsigte van 'n aansoek wat deur 'n werkgewersorganisasie gedoen is.

 

(9) (a) Die Minister kan, op aansoek deur enige geaffekteerde party en nadat ander geaffekteerde partye 'n redelike geleentheid gehad het om vertoë te rig, die vasstelling wat ingevolge subartikel (1) uitgereik is, wysig of intrek.

 

(b) Vir die doeleindes van paragraaf (a) is 'n geaffekteerde party-

 

(i) 'n werkgewer of werkgewersorganisasie wat deur die vasstelling gedek word;

 

(ii) 'n geregistreerde vakbond wat werknemers wat deur die vasstelling gedek word, verteenwoordig of 'n werknemer gedek deur die vasstelling wat nie lid is van 'n geregistreerde vakbond nie.

 

(10) 'n Werkgewer ten opsigte van wie 'n vasstelling gedoen is of wie se werknemers gedek word deur 'n vasstelling ingevolge subartikel (1), moet-

 

(a) 'n afskrif van die kennisgewing opsigtelik vertoon by die werkplek, waar dit deur die werknemers op wie die vasstelling van toepassing is, gelees kan word;

 

(b) elke werknemer skriftelik in kennis stel van die bestaan van die vasstelling en waar 'n afskrif van die kennisgewing vertoon word; en

 

(c) 'n afskrif van die kennisgewing gee aan elke-

 

(i) geregistreerde vakbond wat daardie werknemers verteenwoordig;

 

(ii) verteenwoordiger van 'n vakbond wat daardie werknemers verteenwoordig; en

 

(iii) werknemer wat 'n afskrif versoek.