Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997/Hoofstuk agt

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
please do not remove empty parameters (see the template documentation).
Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997 by Regering van Suid-Afrika

Hoofstuk agt: Sektorale vasstellings

HOOFSTUK AGT
SEKTORALE VASSTELLINGS (aa 51-58)

 

51 Sektorale vasstelling

 

(1) Die Minister kan 'n sektorale vasstelling doen wat basiese diensvoorwaardes vir werknemers in 'n sektor en gebied instel.

 

(2) 'n Sektorale vasstelling moet gedoen word ooreenkomstig hierdie Hoofstuk en by kennisgewing in die Staatskoerant.

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 51: 21 Maart 1998.]

 

52 Ondersoek

 

(1) Alvorens 'n sektorale vasstelling gedoen word, moet die Minister die Direkteur-generaal gelas om diensvoorwaardes in die betrokke sektor en gebied te ondersoek.

 

(2) Die Minister moet die opdrag vir die ondersoek bepaal, wat moet insluit-

 

(a) die sektor en gebied wat ondersoek moet word;

 

(b) die kategorieë of klasse werknemers wat in die ondersoek ingesluit moet word; en

 

(c) die aangeleenthede wat ondersoek moet word, wat enige aangeleentheid wat in artikel 55 (4) gelys word, kan insluit.

 

(3) Die Minister moet 'n kennisgewing in die Staatskoerant publiseer wat die opdrag van die ondersoek uiteensit en wat lede van die publiek uitnooi om skriftelike vertoë voor te lê.

 

(4) Indien 'n organisasie wat werkgewers of werknemers in 'n sektor en gebied verteenwoordig 'n skriftelike versoek tot die Minister rig om diensvoorwaardes in daardie sektor en gebied te ondersoek, moet die Minister-

 

(a) óf die Direkteur-generaal gelas om 'n ondersoek in te stel, óf

 

(b) die Kommissie versoek om die Minister te adviseer oor die vraag of die verlangde ondersoek ingestel moet word.

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 52: 21 Maart 1998.]

 

53 Doen van ondersoek

 

(1) Vir die doeleindes van die instel van 'n ondersoek ingevolge artikel 52 (1) kan die Direkteur-generaal-

 

(a) enigiemand wat moontlik tersaaklike inligting vir 'n ondersoek kan gee, ondervra; of

 

(b) skriftelik van 'n werkgewer of werknemer in 'n sektor en gebied wat ondersoek word of van enigiemand anders vereis om enige inligting, boek, dokument of voorwerp wat vir die ondersoek tersaaklik is, binne 'n bepaalde tyd, wat redelik moet wees, voor te lê.

 

(2) 'n Persoon mag nie weier om enige tersaaklike vraag deur die Direkteur-generaal, wat hy of sy regtens verplig is om te beantwoord, te beantwoord nie.<a href="#_edn13" name="_ednref13" title="">[xiii]</a>*

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 53: 21 Maart 1998.]

 

54 Opstel van verslag

 

(1) By die afhandeling van 'n ondersoek, en na oorweging van enige vertoë deur lede van die publiek gerig, moet die Direkteur-generaal 'n verslag opstel.

 

(2) 'n Afskrif van die verslag moet aan die Kommissie voorgelê word vir oorweging.

 

(3) Wanneer die Minister oor die publikasie van 'n sektorale vasstelling geadviseer word, moet die Kommissie ten opsigte van die betrokke sektor en gebied oorweging skenk aan-

 

(a) die verslag wat ingevolge subartikel (1) opgestel is;

 

(b) die vermoë van werkgewers om hul besigheid suksesvol te bedryf;

 

(c) die werking van klein, medium of mikro ondernemings, en nuwe ondernemings;

 

(d) die lewenskoste;

 

(e) die verligting van armoede;

 

(f) diensvoorwaardes;

 

(g) loonverskille en -ongelykhede;

 

(h) die waarskynlike uitwerking van 'n voorgestelde basiese diensvoorwaarde op huidige diens en werkverskaffing;

 

(i) die moontlike uitwerking van 'n voorgestelde basiese diensvoorwaarde op die gesondheid, veiligheid of welsyn van werknemers;

 

(j) enige ander tersaaklike inligting wat aan die Kommissie beskikbaar gestel word.

 

(4) Die Kommissie moet 'n verslag vir die Minister opstel wat aanbevelings bevat oor die aangeleenthede wat in 'n sektorale vasstelling vir die tersaaklike sektor en gebied ingesluit behoort te word.

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 54: 21 Maart 1998.]

 

55 Doen van sektorale vasstelling

 

(1) Na oorweging van die verslag en aanbevelings van die Kommissie beoog in artikel 54 (4) kan die Minister 'n sektorale vasstelling vir een of meer sektor en gebied doen.

 

(2) Indien die Minister 'n aanbeveling van die Kommissie wat ingevolge artikel 54 (4) gemaak is, nie aanvaar nie, moet die Minister die aangeleentheid na die Kommissie vir sy heroorweging verwys, met 'n aanduiding van die aangeleenthede waaroor die Minister met die Kommissie verskil.

 

(3) Na oorweging van die verdere verslag en aanbevelings van die Kommissie kan die Minister 'n sektorale vasstelling doen.

 

(4) 'n Sektorale vasstelling kan ten opsigte van die betrokke sektor en gebied-

 

(a) minimum bedinge en voorwaardes van diens stel, met inbegrip van minimum besoldigingskoerse;

 

(b) voorsiening maak vir die aanpassing van minimum besoldigingskoerse;

 

(c) die wyse, tyd en ander voorwaardes van betaling van besoldiging reël;

 

(d) betaling van besoldiging in goedere verbied of reël;

 

(e) werkgewers verplig om diensrekords te hou;

 

(f) werkgewers verplig om rekords aan hulle werknemers te verskaf;

 

(g) taakgebaseerde werk, stukwerk, tuiswerk en kontrakwerk verbied of reël;

 

(h) minimum standaarde vir behuising en sanitasie stel vir werknemers wat op hulle werkgewers se perseel woon;

 

(i) die betaling van reis- en ander werkverwante toelaes reël;

 

(j) minimum diensvoorwaardes vir vakleerlinge spesifiseer;

 

(k) minimum diensvoorwaardes vir ander persone as werknemers spesifiseer;

 

(l) opleidings- en opvoedingskemas reël;

 

(m) pensioen-, voorsorg-, mediese hulp-, siektebetalings-, vakansie- en werkloosheidskemas of -fondse reël; en

 

(n) enige ander aangeleentheid rakende besoldiging of ander bedinge of voorwaardes van diens reël.

 

(5) Enige bepalings van 'n sektorale vasstelling kan van toepassing wees op alle of sommige werkgewers en werknemers in die betrokke sektor en gebied.

 

(6) 'n Sektorale vasstelling ingevolge subartikel (1)-

 

(a) mag nie ten opsigte van artikel 7, 43 (2), 44 of 48 gedoen word nie;

 

(b) mag ten opsigte van artikel 43 (1) gedoen word slegs om die indiensneming van kinders by die verrigting van adverterings-, sport-, artistiese of kulturele aktiwiteite toe te laat;

 

(c) mag nie die beskerming verleen aan werknemers deur artikels 17 (3) en (4) en 25 of 'n regulasie ingevolge artikel 13 uitgevaardig, verminder nie; en

 

(d) kan die basiese diensvoorwaardes vervat in artikel 9 wysig in die omstandighede by artikel 50 (2A) beoog.

 

[Sub-a. (6) vervang by a. 11 van Wet 11 van 2002.]

 

(7) Die Minister mag nie 'n sektorale vasstelling publiseer nie wat-

 

(a) werknemers en werkgewers dek wat gebind is deur 'n kollektiewe ooreenkoms wat by 'n bedingingsraad aangegaan is;

 

(b) enige aangeleentheid in 'n sektor of gebied reël waarin 'n statutêre raad ingestel is en ten opsigte waarvan daardie statutêre raad 'n kollektiewe ooreenkoms aangegaan het;

 

(c) enige aangeleentheid reël wat deur 'n sektorale vasstelling vir 'n sektor en gebied wat vir minder as 12 maande in werking is, gereël word.

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 55: 21 Maart 1998.]

 

56 Geldigheidsduur van sektorale vasstelling

 

(1) Die bepalings van 'n sektorale vasstelling bly bindend totdat hulle gewysig of vervang word deur 'n nuwe of gewysigde sektorale vasstelling, of totdat hulle deur die Minister ingetrek of opgeskort word.

 

(2) Indien 'n kollektiewe ooreenkoms beoog in artikel 55 (6) (a) of (b) aangegaan word, hou die bepalings van 'n sektorale vasstelling op om bindend te wees vir werkgewers en werknemers wat deur die ooreenkoms gedek word.

 

(3) Die Minister kan by kennisgewing in die Staatskoerant-

 

(a) 'n bepaling van 'n sektorale vasstelling intrek of opskort, hetsy in die sektor en gebied in die geheel of in 'n deel van die sektor of in 'n spesifieke gebied; of

 

(b) 'n bepaling van 'n sektorale vasstelling soos voorheen gepubliseer, regstel of die betekenis daarvan ophelder.

 

(4) Alvorens 'n kennisgewing van intrekking of opskorting ingevolge subartikel (3) (a) gepubliseer word, moet die Minister by kennisgewing in die Staatskoerant die bedoeling om aldus op te tree, bekend maak en 'n geleentheid vir openbare kommentaar toelaat.

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 56: 21 Maart 1998.]

 

57 Regsgevolge van sektorale vasstelling

 

Indien 'n aangeleentheid wat in hierdie Wet gereël word ook ingevolge 'n sektorale vasstelling gereël word, geniet die bepaling in die sektorale vasstelling voorrang.

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 57: 21 Maart 1998.]

 

58 Werkgewer moet 'n afskrif van sektorale vasstelling hou

 

Tensy 'n sektorale vasstelling anders bepaal, moet elke werkgewer vir wie die sektorale vasstelling bindend is-

 

(a) 'n afskrif van daardie sektorale vasstelling te alle tye beskikbaar hou in die werkplek;

 

(b) daardie afskrif beskikbaar stel vir insae deur 'n werknemer; en

 

(c) 'n afskrif van daardie sektorale vasstelling-

 

(i) aan 'n werknemer gee wat die voorgeskrewe geld betaal het; en

 

 

(ii) gratis, op versoek, aan 'n werknemer gee wat 'n verteenwoordiger van 'n vakbond of 'n lid van 'n werkplekforum is.

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 58: 21 Maart 1998.]