J.C. Smuts - Onthulling van die Krugerstandbeeld

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Toespraak tydens die onthulling van die Krugerstandbeeld

deur J. C. Smuts
Te Stasieplein, Pretoria op 10 Oktober 1925


Gedurende die laaste twee jaar van die Republiek het ek die voorreg gehad om intiem met hom saam te werk en in die nouste persoonlike kontak met hom om te gaan. Ek was diep geïnteresseerd in sy persoonlikheid en het met die stipste noukeurigheid al sy doen en late gade geslaan. Ek is dus in alle opsigte bevoeg om voor die geskiedenis getuienis af te lê oor sy persoonlike karakter. En na aanleiding van beskuldiginge wat van tyd tot tyd teen hom gemaak is, wens ek te sê dat Paul Kruger 'n deur-en-deur edel en opregte karakter was. Sy edelheid en reinheid was nie maar uiterlik nie, maar was gewortel in die diepe, onsienlike diens van die verlede.

Paul Kruger was 'n mistikus; sy innerlike lewe was met God in alle opregtheid en nederigheid, en sy uiterlike handelinge was slegs die uitdrukking van daardie dieper sielslewe. 'n Reiner, opregter, eerliker karakter het ek nooit in my lewe ontmoet nie. Wat ook onthul mag word, het ek die volste vertroue dat nooit iets aan die lig sal kom waaroor die vereerder van Paul Kruger beskaamd sal behoef te staan nie. 'n Blanke siel, 'n sterk persoonlikheid, 'n onverskrokke vegter, 'n groot staatsman en 'n onvergelyklike volksleier, het hy in alle opsigte 'n onskatbare nagedagtenis nagelaat en sal hy voortlewe as die grootste figuur uit die helde-periode van die geskiedenis van Suid-Afrika.

Aantekeninge[edit]

  • Verkry uit Die Geskiedenis van die Krugerstandbeeld deur J. H. Breytenbach M.A., D.Phil. Uitgegee deur Die Krugergenootskap, Pretoria: 1954.
Public domain Hierdie werk is in Suid-Afrika geskep en is nou in die publieke domein aangesien die kopieregtermyn daarvan verstreke is. Volgens die Suid-Afrikaanse wet op kopiereg word alle werke in die publieke domein vrygestel vyftig jaar na hulle publisering, getel vanaf die begin van die volgende kalenderjaar. (Vir 2008, vanaf 1 Januarie 1959.)