Die prosa van die twede Afrikaanse beweging/Hoofstuk VIII

From Wikisource
Jump to: navigation, search
Hoofstuk VII Die prosa van die twede Afrikaanse beweging
Hoofstuk VIII
deur Pieter Cornelis Schoonees
Hoofstuk IX



HOOFSTUK VIII.

Dierebeskrywing.

1. A.A. Pienaar. (SANGIRO).

Sangiro is in 1894 in die distrik Pretoria gebore. Op elfjarige leeftyd het hy met sy ouers die voortrek na Duits-Oos meegemaak. Groot was die ontberings op die lang trek van die kus af na Kilimandjaro. Eers was dit malaria, toe vrek die trekdiere en eindelik was al die voedselvoorraad op—verweg in wilde bosstreke, waar niks te kry was nie. Kort na die aankoms by Kilimandjaro, waar toe al 'n paar Boerfamielies was, is twee van sy broers dood aan die gevolge van malaria en die ontberings langs die pad. Daar was geen ander maats naby die plaas nie en dus het hy alleen opgegroei tussen die diere. Van die tyd vertel hy: "Die grootste plesier het toe nog bestaan in die jagawonture en die doodskiet. Maar ek het baie behae daarin geskep om jong wilde diere lewendig te vang en aan my gewend te maak. Daardie eerste jare was 'n gedurige worsteling om die vee snags teen roofdiere te beskerm. Dié werk het hoofsaaklik op my gerus. Deur gedurige aanraking—jag en naspoor gedurende die dag en opsit in die kraal snags, het ek natuurlik 'n baie intieme kennis van die roofdiere veral gekry. Hierdie lewe het vier jaar geduur. Toe is ek na Suid-Afrika om te studeer. (Heidelberg, Tvl. en Stellenbosch). Toe ek in 1917 gaan kuier na Duits-Oos, was my lewensbeskouing baie verander. Ek het dit nou swaar gevind om wild dood te skiet, en het die jag alleen nog geniet wanneer dit gevaarlike teenstanders, soos die leeu en renoster geld. Die grootste plesier het ek nou daarin gevind om die diere in hulle eie omgewing gade te slaan. Die gebeurtenisse in my boekie het gedurende hierdie twee jaar plaasgevind. Die stories is waar. Die leeus het ek 'n weeklank elke maanlignag sit en beskou uit 'n boom. Ek kon elke beweging bespeur en later weergee in my boek. Die jagters wat daarin voorkom is my broer, ('n jonger een) en ek self."

In 1920 het Sangiro aan die Stellenbosse Uniwersiteit gegradueer. Hy is nou op die redaksie van Die Burger, en uit die blad is sy sketse Uit die Lewe bekend. In 1921 het van hom verskyn: Uit Oerwoud en Vlakte, Sketse uit die Oos-Afrikaanse Dierewêreld[1]. Daarvan vertel hy: "Die boekie is geskryf in Quarta, Stellenbosch, waar 'n groot verlange na die wildernis van my besit geneem het, sodra ek in 1918 weer teruggekeer het uit Duits-Oos.... Ek kan dit nie help nie, maar ek het 'n gedurige heimwee na die wildernis—nou ook weer." So skryf Sangiro net na sy terugkeer van 'n lang jagtog. Die jag was egter bysaak en die volgende keer neem hy miskien net sy kamera saam. Sangiro is die bynaam wat die Kaffers hom gegee het.

Sketse uit die Oos-Afrikaanse Dierewêreld.

M.H. van Campen het opgemerk, dat in die loop van die eeue die beroemdste skrywers die dierewêreld "nimmer om zich-zelfs-wil in literaire kunst" uitgebeeld het nie. In die Pancatantra, die fabels van Aesopus, die Reinaert-sage en ook vir La Fontaine is die dier alleen van belang "voor zoover het als acteur te gebruiken viel, wien een menschelijke rol kon worden toebedeeld."[2] "Zeer zeker ging al dezen schrijvers het eigenaardige van het dier-leven niet onopgemerkt voorbij, maar dat leven zagen zij niet als een schoonen stroom, machtig, diep en hunner aandacht ten volle waardig, ook al hadden zij er nooit de spiegeling van der menschheid gelaat in gezien.... De dieren spelen (in de Indo-Europeesche dierensage) wel de eerste rol, maar die dieren denken en handelen met menschelijk verstand, die dieren zijn verkapte menschen, zijn menschen in een dierenhuid gestoken, gelijk in Rostand's Chantecler." Natuurlik erken Van Campen dat "door spel en tegenspel dezer als 't ware psychologisch-kunstmatige en niet naar de doorgronde-werkelijkheid gebeelde dierfiguren, tafereelen van tot schoonheid gestegen schalkheid, satyre, wijsgeerig en mensch-kundig inzicht ontstaan (zijn), die voor geen andere werken van letterkunde onder hebben te doen."

In die diere-epos en diereroman van ons tyd word die dier om sy eie ontwil uitgebeeld. Jack London se Pittah noem Van Campen: "een dierenverhaal, dat ons den schrijver doet zien, zóó verzonken in de contemplatie van het dier-leven, dat dit op het allereerste plan van het werk staat, en de menschen er slechts in optreden voor zoover zij invloed hebben op geest of lichaam van het dier." So langsamerhand het daar 'n uitgebreide literatuur ontstaan, heeltemal gewy aan diere van allerlei soort. Charles Derennes raak in sy bestiaire sentimentale selfs in geesdrif oor 'n vlermuis en in Le Roman de la Rivière van Georges Ponsot is die held 'n jong snoek. By sommige kunstenaars is dit die herlewing van die ou pastorale idee, 'n wegvlugtery uit die smoor-atmosfeer van die moderne beskawing. Edward Garnett vertel ons van W.H. Hudson "who, (flings) off the soiled dust of our human thoroughfares, and (goes) into nature's wilderness to escape the sight of the pale civilized faces, with the mean round of petty human interests of their artificial indoor lives."[3]. In Suid-Afrika met sy wyd uitgestrekte vlaktes, wat nog so dun bevolk is, kan daar van so 'n motief egter geen sprake wees nie. By ons is daar nog maar weinig "kinderen van weelderige overbeschaving",[4] want die grootste gedeelte van die volk leef nog in landelike eenvoudigheid. Maar deur die gedurige rondtrekkery in woeste streke het die Boere in intieme aanraking met die natuur gekom, en had hul die geleentheid om die lewe van die groot wild van naby te bestudeer. In ons letterkunde is daar dan ook tallose jagverhale. Maar so 'n digterlike gees soos Sangiro is nie tevrede met die optekening van sy jagervarings nie. Deur 'n langdurige verblyf in woeste streke geraak hy onder die mistieke bekoring van die oerwoud, gaat hy geestelik heeltemal op in die geweldige drama van die natuur. "Man ... can only enter into the vast world of (nature's) myriad sentient life by employing all the old emotional tools—his sense of mystery, love of beauty, poetic imagination, and human love—to supplement and vivify the impassive truths of Science."[5] Dit is wat Sangiro doen. 'n Leeu is vir hom nie alleen "'n aantreklike wit" en "na 'n goedgeslaagde skoot ... 'n stuk dooie vleis" nie, maar in elke leeu sit "'n fyn georganiseerde lewe ..., 'n persoonlikheid in sy soort ruim so interessant as dié van die mens" (p. 83). "Ook onder die wilde diere bestaan daar 'n soort van geesteslewe, wat die opmerksame waarnemer telkens weer met verwondering vul; vir hom word dit naderhand moontlik om die diere se gewaarwordinge uit hul uiterlike beweginge te verstaan" (Voorwoord). Maar Sangiro is veel meer as 'n "opmerksame waarnemer"; sy liefde vir die diere maak hom die digterlike vertolker van al hul emosies en instinkte en deur middel van sy plastiese uitbeelding laat hy ons dit ook navoel. "Wild nature's life being a natural drama of instinct, an unceasing play of hunger, love, battle, courtship, fear, parental emotion, vanity, and most of all, perhaps, pure enjoyment of physical powers, it is obvious that every man who is irresponsive in his feelings, or possessed of a dull artistic imagination, or weak aesthetic sensibilities, must remain practically aloof from wild nature and its infinite feast of characteristic displays."[6]

Edward Garnett het in die aangehaalde artiekel duidelik aangetoon, dat die noukeurige wetenskaplike waarnemings van die beroepsnatuurkundige aangevul en vertolk moet word deur artistieke en poëtiese verbeelding. Tot die wetenskaplike ondersoeker sê hy: "You tell us countless facts about the laws of life, but the actual spirit of life, its living feeling, which is the essential volatile principle of life, can never be fully assessed by you." Dié artistieke verbeelding en innige aanvoelingsgawe besit Sangiro en daarom is sy sketse ook 'n kunswerk geword.[7] Hoe diep en innig die liefde vir diere kan word, blyk uit die volgende verklaring van Dr. Jac. P. Thijsse: "Ik heb nu al zoovele voorjaren met de vogels bewust meegeleefd, dat ik ook de Aprilmaand min of meer op vogelmanier gevoelen kan en ik voel 's morgens bij 't ontwaken, welke vogels in den nacht aangekomen kunnen zijn."[8]

In die eerste skets beskryf Sangiro die lotgevalle van 'n leeufamielie. In al hul houdings het hy die diere bespied, op al hul dwaalpaadjies het sy oog hul gevolg. Die speelse vrolikheid van die kleintjies, die versigtige sluipgang op die jagveld, die kennismaking met nuwe vrinde en die nagtelike smulpartye word op mooi realistiese wyse geteken. Hy probeer om al die fyn klanknuanserings in die leeuegebrul te verstaan. Wanneer hy die smart van die trotse bosreuse oor 'n doodgeskiete wyfie beskryf, die hulpelose verlatenheid en swerftogte van die bangerige kleintjies, dan bereik hy 'n diepte en innigheid van plastiese uitbeelding waar 'n roerende skoonheid in bewe. Die langsame ontplooiing van die jaginstink by die jong diertjies word met treffende waarheid geskilder. Die wilde natuur waarin die geweldige dieredrama afgespeel word is nie alleen dekor, is nie louter omlysting nie, maar maak onafskeidelik deel uit van die handeling. In die stilte van sy donker wegkruipplek, in die lange ure van sy spannende nagwake het die geheimsinnige gees van die wildernis hom aangeraak. Hy het die glans van die maanspatsels oor donker blare gesien, die wegskuiwende skaduwees in hul trage gang gevolg; die blitsoë van getergde leeus het hom laat huiwer; die geritsel van die gras, die gekreun van die bome, die jagkrete van al die oerwoud-bewoners het hy leer verstaan; die slagtande van gulsige hiënas het hy hoor kners op die afgevrete bene van hul prooi. En deur die skoonheid van sy woord laat hy ons dit ook alles sien en hoor.

"Ek sou ... vandag die geweer opsy laat en net met kamera en dagboek ter hand 'n beeld uit die daaglikse lewe van die oerwoudbewoners probeer opvang." (p. 169.) So ontstaat die skets: In die Oerwoud. By 'n reënpannetjie is sy wagplek en al die lewe rondom hom word met raak trekke geteken, terwyl ook die hele atmosfeer van die oerwoud goed aangedui word.

Die derde skets Renosterlewe is 'n deurlopende verhaal van die vrindskap tussen 'n renostertjie en 'n jong seekoei, wat albei hul ouers deur die koeëls van die jagters verloor het en troos en veiligheid in mekaar se geselskap vind. Al hul awontuurlike ondervindings op lang swerftogte deur oerwoud en oor vlaktes word met liefdevolle oorgawe in treffende tafereeltjies uitgebeeld. Die hele tropiese omgewing met sy miljoene dier-bewoners en weelderige plantegroei word vir ons 'n skone realiteit, trillende van intense lewe tot in sy donkerste wegkruipplekkies. In so 'n geweldige oerwoud is die mens maar 'n nietige stippeltjie, en in die atmosfeer van plegtige stilte, waar elke geritsel 'n betekenis het vir duisende ore, besef ons, "that man's mind, though the most marvellously complex instrument of all, is still, as it were, but a human eyelet hole, through which the Universe can only be refracted back to us in certain aspects of its incalculable whole."[9] Hoe dankbaar moet ons wees, dat daar kunstenaars soos Sangiro is, wat ons nader aan die natuur bring, wat ons iets laat begryp van die intieme lewe van die diere. Hy is op die jagveld nie alleen 'n vernielende oorwinnaar nie, aangehits deur 'n primitiewe uitroeiingsinstink, maar ook die digterlike aanskouer, wat voel dat daar in die krioelende lewe om hom heen skoonheid te vind is. Dat hy protes aanteken teen die onridderlike praktyke van party jagters kan ons verstaan.[10] Maar sy hele boek is so 'n welsprekende aanklag teen menslike wreedheid, dat 'n direkte pleidooi, wat ook uit kunsoogpunt nie kan goedgekeur word nie, oorbodig is.

Treffend is die tekening van die eensame renosterwesie. "Sy ongeduldige geproes, waarmee hy eers die seekoeitjie wou uitlok, onderwyl hy opgewonde op die oewer ronddrentel en die sagte brak vol ronde spoortjies trap, het langsamerhand, namate sy maat verder en verder swem, in 'n smekende gepiep oorgegaan.... Nog 'n rukkie staan die donker figuurtjie daar op die wit brak, af en toe sag kwiekende onderwyl hy oor die water staar, die knoestige koppie vooruitgestrek in 'n poging om verder te sien met die klein ogies. Eensaam en verlate genoeg lyk hy, met sy kneukelige dik lyfie, gerimpelde moddervelletjie en swaarmoedige renostergesiggie" (p. 204-6). So vind Sangiro vir al die woudbewoners die juiste, tekenende woord. Van 'n gekweste seekoei kry ons die volgende realistiese skildering: "In stomme wanhoop-staar hang die massiewe kop omlaag, die verbryselde kakebeen bloederig-kwylend in aanhoudende vergeefse poginge om tande op mekaar te knars." (p. 225.) Ook die atmosferiese verskynsels, die tropiese sonsondergang, die miswolke teen die hang van die berge, die sombere reënseisoen laat Sangiro in fyn stemmings-beskrywinge vir ons leef. "Dae het verbygegaan, en nog duur die sonskyn. Met die groei van die maan het die weer skielik verander, en na 'n week van woeste, stikdonker nagte en droefskemerige reëndae wasem die oerwoud weer geur uit onder 'n sonnige safierhemel; en wellustige dae word gevolg deur toweragtige maanlignagte, wanneer vuurvliegies oor 'n misties-glimmende watervlak dans en dowwe eggo-klanke van nagdiere onder 'n donker, vogtige oerwoud rondom weerklink." (p. 229.) Mens voel dat die skrywer sy gedagtes gekoester het, sy woorde liefhad en hul met sorg neergeskryf 't. Daar is 'n vloeiende buigsaamheid, 'n musikale streling in sy sinne. Telkens word ons verras deur raak seggingskrag en fyngevoelige uitbeelding, sonder dat aanstellerige en bygemaakte woordpronksels die klare eenvoud van sy styl bederf.

'n Enkele maal skryf hy aan die diere miskien te spesifiek menslike gevoelens toe, en soms twyfel ons aan die juistheid van sy psigologie. "Die renostertjie (staan) nog snuiwend in die rondte, gereed om te storm ... en heeltemal seker dat hy nou vreeslik boos en luidrugtig is." (p. 233.) In so 'n geval bring die skrywer sy eie waarneming op die dier oor en oortuigend is dit seker nie. Maar daarteenoor staan, dat hy hom so ingeleef het in die diereverstand, dat sy intuïesie hom selde op 'n dwaalspoor bring.

Oor die beeldspraak nog 'n opmerking: maak dit nie 'n komiese indruk nie, as ons lees dat renosters "in alleryl die hasepad gekies het"? (p. 188.)

§ 2. Hans Anton Aschenborn.

Aschenborn is in 1888 gebore in Kiel. Sy vader is 'n Duitse admiraal. In Mecklenburg het hy op 'n groot landgoed prakties leer boer. Van Prof. Burmester in Kassel het hy skilderles gehad en sedert 1910 boer en skilder hy in Suid-Wes-Afrika. Op die gebied van die artistieke afbeelding van ons wilde diere is hy 'n baanbreker en verskeie uitgawes is al deur hom geïllustreer.[11] In 1921 het verskyn: Uit die Lewe van 'n Gensbok, die eerste van 'n reeks, waarin Aschenborn ook die koedoe, wildebees en eland wil beskryf en afbeeld. "Die gensbok het ek op my plaas in Suid-Wes so noukeurig gadegeslaan, dat hy vir my 'n intieme vriend geword het", verklaar hy in sy voorwoord. Maar so 'n woordkunstenaar soos Sangiro is hy nie. Sy boekie is van meer betekenis vir die skilderkuns as vir die letterkunde. In eenvoudige, soms gebrekkige taal skets hy 'n paar insidente uit die lewe van 'n gensbok.

VOETNOTAS

  1. Oorspronklik in Die Huisgenoot verskyn.
  2. Over Literatuur, Twede Bundel: Pit-tah, De Grijze Wolf, door Jack London, p. 205 vlg.
  3. Friday Nights: Hudson's "Nature Books," p. 15 vlg.
  4. Vgl. J.H. van den Bosch, Inleiding by Hooft's Granida, Zw. Herdr.
  5. Garnett, t.a.p.
  6. Garnett, t.a.p.
  7. Wanneer hy ons in sy voorwoord verseker, dat die verbeelding geen rol speel nie, dan bedoel hy alleen dat sy interpretasie op self waargenome feite berus.
  8. Het Intieme Leven der Vogels, p. 221.
  9. Edward Garnett, t.a.p.
  10. Vgl. o.a. p. 83 vlg.
  11. Ontleen aan Die Huisgenoot Des. 1920.